Tuis

Artikel te danke aan Capensis 3/2013

Só het die SCHULZEs na Suid-Afrika gekom.

Die stamvader en sy kinders — hulle wel en wee Sasa Malan

In Maart vanjaar(2013) het die jongste kind van Willi SCHULZE en Corrie HOLLEBRANDS van Lydenburg haar tagtigste verjaardag op Stellenbosch gevier. Hänsi Robbertse en haar twee broers en twee susters is deel van die derde geslag van hierdie Schulzes in SuidAfrika:1 die nakomelinge van Carl Ferdinand Ludolph Dietrich Schulze wat getroud was met twee GÜLDENPFENNIG-susters, eers met Johanna Elisabeth Berhardina en daarna met haar suster Anna Maria Dorothea2.

BO: Die Schulzebroers en -susters vier hul kleinsus se tagtigste verjaarsdag op Stellenbosch. Tweede van regs is sy, Hänsi (x Jan Robbertze). Saam met haar is, van links, Ilse (x Petrus de Villiers), Erich (x Yvonne Gleimius), Frieda (x Johannes Hofmeyr) en heel regs Carl (x Bets van der Lith). Hulle behoort tot die tweede geslag van die familie wat in Suid-Afrika gebore is en is die kinders van Willi Schulze en Corrie Hollebrands in lewe van Lydenburg in die voormalige Oos-Transvaal. Hul oudste suster Ingrid(x Jacob Sieling) is in 2012 oorlede.

Van die stamvader se 15 kinders, het tien nageslag gehad; daar was 43 kleinkinders en in die volgende generasie was daar 1333.

Oosprong van die familie

Hoe dié familie oorspronlik in die land gekom het, is ’n interessante verhaal. Die storie begin eintlik met die pa van die twee Schulze-eggenotes, Friedrich Wilhelm Ludwig Güldenpfenning wat in 1847 in Pietermaritzburg getroud is met Johanna Henriette Wilhelmina RUDOLPH, die oudste dogter van die Voortrekkers Johan Bernardt RUDOLPH en Elisabeth Susanna FOURIE. 

Die Güldenpfennigs

Friedrich Güldenpfennig het in1845 as Berlynse sendeling na die Transkei gekom. Met die uitbreek van die Oorlog van die Byl, versoek Sir Theophilus Shepstone die Transkeise sendelinge egter om liewer na Natal te gaan. Dáár stig Güldenpfennig saam met Jacob Ludwig DÖHNE en Carl Wilhelm POSSELT die sendingstasie Emmaus naby die huidige Winterton2
.

Die Rudolphs

In Natal trou Friedrich Güldenpfennig met Johanna Rudolph uit die Voortrekkers gemeenskap by Pietermaritzburg. In 1852 vra die Boere van Natal hom om hulle te bedien en vir sowat vyf jaar is hy predikant in die omgewing van Weenen; hierna sluit hy weer by die Berlynse sending aan.

ONDER: Anna Maria Dorothea Güldenpfennig, die tweede vrou van Carl Schulze, sy het ses kinders gehad en haar suster, Carl se eerste vrou, nege van wie een as kind oorlede is.

Duitsland toe

Friedrich was egter ’n hartlyer en sy gesondheid ry sy sendingloopbaan telkens in die wiele. Hy het by meer as een geleentheid probeer om ook op sy eie plaas Stendal ’n sendingstasie te stig. In 1862 moet hy ’n ruk lank vir mediese behandeling na Duitsland gaan en in 1864 repatrieer hy en neem se hele gesin saam.
Hulle gaan woon in Altruppen, Pruise en hy beywer hom steeds vir die sending deur te help met die insameling van geld daarvoor. Hier in Altruppen is in 1866 die Güldenfpennigs se jongste dogter gebore, maar hier is hy ook in 1868 oorlede.

Die oudste Güldenpfennig-dogter trou in 1870 met Carl Schulze. Kort daarna keer die weduwee met haar gesin, wat nou die jong egpaar Schulze insluit, terug na Natal2. Hulle gaan woon op die plaas Malta in die omgewing van die huidige Winterton. Dit wil voorkom of hierdie ’n plaas van die Rudolph-familie was.

Terwyl haar kinders mettertyd deel word van die wel en wee van die Natalse gemeenskap en later veral van die Zuid-Afrikaanse Republiek oorkant die Vaalrivier, skep Ouma Güldenpfennig blykbaar ’n tuiste op Malta waarheen die kinders en kleinkinders gereeld weer terug kom om te kuier en selfs om te woon (sien “Ouma Güldenpfennig” verder aan). 

Die lewe van Carl Schulze en sy kinders

Carl Schulze moes ’n romantiese en ondernemende man gewees het. Volgens oorlewering het hy, terwyl hy saam met sy regiment van “die oorlog” af deur sy dorpsgenote toegejuig is, ’n aanvallige meisie tussen die ander opgemerk. Hy het mooi gekyk waar sy woon, haar opgesoek, en is op 29 Mei 1870 op Sandau a/d Elbe met Johanna Güldenpfennnig getroud. Hulle eersteling, ’n dogtertjie is ’n jaar later in Suid-Afrika gebore.

Ná hul aankoms in Natal vestig Carl en Johanna hulle aanvanklik op Malta, maar reeds in 1873 word hul tweede kind en oudste seun by Lydenburg in die Zuid-Afrikaanse Republiek gebore.

Hulle woon op dié embrionale dorpie of op die plaas Mostertshoek daar naby. Van toe af is die Schulzes Lydenburgers. Op die latere plaas Rooidraai, waar menige familiefees gevier is, woon nou nog nakomelinge van Otto Schulze, derde kind van die stamvader. Die woonhuis by De Clercqstraat 23 op
die dorp was van vroeg in die 1870’s tot 1994 nog in Schulzebesit; Willi Schulze en later sy weduwee en hul kinders het vir jare daar gewoon en ook vir tye huisvesting aan verskillende ander familielede gegee.

’n Bruikbare mens

Carl Schulze moes ’n aanwins gewees het vir die jong Republiek. Volgens die huldeblyk later toe hy dood is:4 “Met Carl Schulze die de 13de Augustus op Malta naby Winterton in Natal overleed, is ’n bekende figuur in Lijdenburg heengegaan . . . [hy] werd op 23 April 1836 geboren te Wendemark, in welke plaats zijn vader predikant was geweest. Wendemark is ’n mooi oud stadje; ’t verrijst uit een bed van tuinen te Maagdenburg, Duitsland . . . [hier] bracht Carl de gelukkige jeugd door . . . Hij bezocht ’t Gymnasium te Stralsund; zijn militaire opleiding genoot hij in ’t Garde-regiment te Potsdam. Van 1863–1865 was hij student aan de Kon. Landbouw school te Waldau en voltooide zijn studie in de landbouw aldaar . . . toen zijn land in moeilikhede verkeerde was hij ’n dapper soldaat en vocht hij naast de Kroonprins en Moltke bij Königgratz en in andere veldslagen in Oostenrijk . . . na zijn terugkeer in Duitsland, werd hij benoemd tot inspekteur van landbouw”.

Voorgeslag van Carl Ferdinand Ludoph Dietrich SCHULZE

Onder die nagelate dokumente van Carl SCHULZE (1836-1916), die stamvader van die Lydenburgse Schulzes, is daar ‘n brief met inlligting oor hul voorgeslag in Duitsland — dit word nou, honderd jaar later, bevestig op die internet: (Kyk dus ook: en.wikipedia.org/wiki/Stephan_Praetorius de.wikipedia.org/wiki/Stephan_Praetorius).

Hierdie inligting is saamgevat in die stamlys hieronder, manlike lyn genommer volgens die Kékulé-kode. (Die uitgangspersoon, hier Carl Schulze, is No 1. Elke vader se nommer is dubbeld díe van sy kind.)

Amptenaar in Lydenburg

In 1876 word Carl in Lydenburg aangestel as die naturellekommissaris, ’n pos wat hy ’n lang ruk beklee het. Toe die Britte in 1877 die Republiek annekseer, bly hy aan as kommisssaris, word vrederegter in 1880 en neem aktief deel aan die oorlog teen Sekoekoenie; in 1881 word hy benoem as landdros van Lydenburg. Nadat die Transvaal weer onder eie regering kom, word hy aangestel as landdrosklerk, publieke aanklaer en posmeester van Lydenburg.

Tenspyte van onderlinge politieke sturwelinge is die volgende sowat vyftien jaar betreklik rustig op die jong dorpie. Die Schulzegesin brei bestendig uit. In 1883 is hul agtste kind gebore; een dogtertjie is oorlede en begrawe op Malta, die oorlewendes is vyf seuns en twee dogters. 

Lydenburg in die tyd van die ZAR. 

’n Kykie in die lewe van Lydenburgers kom uit die herinneringe van ’n susterskind van die Schulzes, Bertha Opperman5 . Sy vertel van die ongereelde poskar vanaf Pretoria en Middelburg, getrek deur eiesinnige donkies; ’n besoek van die bejaarde Paul Kruger; en van een van die onvergeetlike mense van daardie dae se Lydenburg, die wamaker Thomas Palframan.

Mnr Palframan het gereeld op vakansiedae sy bokwa ingespan, al die kinders van die dorp opgelaai en in die mooi kloof gaan piekniek hou . . . dan het hy eetgoed vir die hele span dorpskinders saamgeneem. Een mannetjie het van so ’n piekniek huilende tuis gekom . . . “daar was nog só baie lekker goed, maar ek kon nie meer eet nie”. ’n Groot skade vir hom!

Die dorp het meer sulke weldoeners geken. Daar was etlike gevalle van mense wat tot die end van hul lewe bly woon het in huise waarvoor hulle geen huurgeld hoef te betaal het nie of wat hulle van ’n dorpsgenoot present gekry het – geen familie nie, maar sommer net vriende wat ’n  minder bedeelde ewemens wou help. Aldus Bertha Opperman.

Ook Bertha Opperman se broer Rudolph het sy herinnering aan die dorp beskryf:6 “Ek is gebore in 1881 in die moeilike dae van die SA Republiek. Lydenburg my geboorteplek, het toe net uit ’n paar sooihuise bestaan. Maande lank het die skool soms geen meester gehad nie . . . Toe ek 15 jaar oud was, het ek as leerlingklerk in die Lydenburgse poskantoor gaan werk, onder my oom, mnr Carl Schulze, as posmeester.” (Rudolph Opperman vertel ook dat hy tydens die ABO as krygsgevangene na Bermuda gestuur is, ná die oorlog het hy geweier om die eed van getrouheid aan Britanje af te lê en na Amerika geëmigreer waar hy ’n neef gehad het.)

Die moeder oorlede

In 1887 is Carl Schulze se vrou Johanna Elizabeth Bernhardina Güldenpfennig in die ouderdom van 38 oorlede; haar jongste kind was twee jaar oud. Carl trou in 1889 met Johanna se jonger suster Anna Maria Dorothea. 

 In 1894 is twee van Carl se seuns reeds oud genoeg om deel te neem in die oorlog teen Maleboch, hoof van die Bahananoa’s van die Blouberg in die noordweste van die huidige Limpopo-provinsie.

Toe die Anglo-Boere-Oorlog in 1898 uitbreek, verander Carl Schulze se droom oor die opbou van ’n nuwe vaderland waarskynlik in ’n nagmerrie. Hy en Anna het toe reeds vyf seuns en ’n sesde sou gedurende die oorlog gebore word. 

Die ABO en daarna

Twee van die Schulzeseuns is gedurende die oorlog dood en ’n derde as krygsgevangene na St. Helena gestuur. Carl self is aanvanklik gevange geneem maar later weer vrygelaat, moontlik omdat hy ’n
Duitser was. Ná die oorlog het hy nie weer aan die amptelike lewe deel geneem nie; hy was toe reeds diep in die sestig. Tog is hy nog vol lewe.

Die Schulzes was almal baie musikaal en saam met sy seuns vorm hy ’n blaasorkes wat lewe op Lydenburg waarskynlik vir die hele gemeenskap opgevrolik het.

ONDER: Die Lydenburgse blaasorkes: Carl Schulze met nege van sy tien oorlewende seuns. Hulle is van links na regs, eers agter en dan voor: Eddie, Ferdi, pa Carl, Georg, Lulu, Gottfried, Max, Carl, Rudolph en Willi. Die kinders was meestal baie musikaal.

Anna ook oorlede

In 1906 is Carl se tweede vrou, Anna Maria Dorothea, ook oorlede. In ’n neerslagtige bui skrywe hy aan sy kinders oor die toestand in Lydenburg, trouens in die hele Transvaal (vry vertaal):7

“Ons woon nou in ’n besondere swaar tyd, reeds ses, sewe jaar waarin dit moeiliker word om ’n bestaan te maak . . . ons het gehoop en hoop steeds op beter tye maar die vooruitsig daarvoor is nou nog steeds sleg”.

Die jongste seuntjie Rudolph is slegs so vyf jaar oud toe die gesin se tweede ma oorlede is. Carl maan die ouer kinders om na die jongeres om te sien en te sorg dat hulle ’n toekoms het.

In 1908 is die oudste suster Johanna egter ook oorlede, maar dat die ouer kinders hul pa se wens ter harte geneem het, blyk waarskynlik daaruit dat van die jonger kinders by voorbeeld wel goeie onderwys geniet het.

In 1916 is Carl Schulze self ook oorlede: op Malta waar hy vir sy dogter gaan kuier het4. (Dié dogter was waarskynlik sy tweede oorlewende dogter, Hänsi genoem, wat getroud was met ’n Güldenpfennig-neef.)

Volgens die doodsberig wat reeds hierbo aangehaal is: “Hij was met hart en ziel ’n Afrikaner onder Afrikaners en behoorde tot de karakteristieke figuren, die ’n werkzaam aandeel hebben genomen in de natuurlike, eigen vrije ontwikkeling der Z. A. Republiek”.

Die tweede geslag Suid-Afrikaanse Schulzes

Die oudste, Johanna Pauline Helene Schulze, gewoonlik Helena genoem, is gebore in 1871, was getroud met Albert BÜRING wat sakebelange in die omgewing van Lydenburg gehad het. Haar gesondheid was nie goed nie en meer as een keer is sy vir mediese
behandeling na die familie in Duitsland; soms is sy vergesel van ’n familielid. Op een van hierdie reise toe haar suster Hänsi saam was, het hulle op die terugreis bevriend geraak met Johanna en Marie Hollebrands, ’n Nederlandse moeder en haar dogter op pad na Pretoria om by vader Hollebrands aan te sluit. Later is die Schulze-broer Willi getroud met Corrie, ’n ander dogter van die Hollebrands. Helene Büring *Schulze sterf in 1908 kinderloos.

Wilhelm Ludwig Stephan Schulze word op 03.06.1873 op Lydenburg gebore. Saam met sy jonger broer Arthur, veg hy in 1894 teen Maleboch van die Blouberg. Met die uitbreek van die ABO het
hy gewerk in die Standardbank in Bulawayo. Hy het aansoek gedoen om na die ZAR terug te keer — maar eers ’n testament opgestel waarin hy sy pa as enigste erfgenaam benoem (TAB: MHG 0/1412). Hy moes per skip na Mosambiek en vandaar na die Transvaal reis. Naby Pigg’s Peak op die grens van die huidige Swaziland, is hy egter op 04.07.1901 deur Britse soldate doodgeskiet; daar word gemeen dat hy vir die Boere rapportgery het. Hy is blykbaar iewers begrawe deur ’n Katolieke priester . . .

Carl Louis Otto Schulze (ook soms Otto Carl Ludwig), is op 21.08. 1874 gebore, en boer later op die plaas Rooidraai by Lydenburg. Hy is in 1905 getroud met Hendrika Johanna KOELEMAN wat op 26.01.1874 in Utrecht, Nederland gebore is; van hul nageslag woon nog op Rooidraai. Otto, soos hy genoem is, is op 07.01.1937 oorlede en Hendrika, wat 96 jaar oud geword het, op 04.02.1974. Hierdie egpaar is die oorspronklike Rooidraaiers. Hulle is albei begrawe op Rooidraai, wat steeds die Schulze se “familieplaas” is.

As jongman, neem Otto deel aan die ABO en word in Oktober 1900, ná ’n skouerwond, gevange geneem en aan-vanklik in die tronk op Lydenburg aangehou. Hy skryf in die dagboek wat hy gehou het:8 “Op een mooi Sondag namiddag is daar omtrent twintig gevangenes ingebring, almal uit die dorp. Onder hulle was die meeste ou gryse stadsvaders en tot my verbasing was Pappa daarby . . . hy en ou meneer Koeleman kom toe saam in my sel slaap.” (Pieter Adrianus Koeleman *1839 kom in 1889 met agt kinders in Suid-Afrika aan.

Ná die oorlog is Otto met sy dogter getroud.) Later word Otto na Pretoria, Kaapstad en uiteindelik St Helena geneem. Volgens sy dagboek was sy pa en jonger broer Arthur ook as gevangenes in Pretoria en Arthur was siek toe hy van hom afskeid geneem het. 

Frieda Elizabeth Margaretha SCHULZE is gebore op 12.11.1875 en op 02.05.1882 op Malta aan witseerkeel oorlede.

Arthur Carl Hans SCHULZE is gebore op 14.11.1877. In 1891 is hy saam met sy suster Helene Duitsland toe waar hy skool gegaan het terwyl sy daar mediese behandeling ondergaan het. Volgens die rapport van die “Mittelschule” het Arthur 13de uit 35 kinders in sy klas “gestaan”. In 1900 tydens die ABO is hy oorlede terwyl hy as kryggevangene in Pretoria aangehou is – waarskynlik as gevolg van maagkoors. Hy het as jong burger in 1894 ook deelgeneem aan die oorlog teen Maleboch by Blouberg.

Frans Ludwig SCHULZE, gewoonlik Lulu genoem, is gebore op 29.04.1879 en oorlede op 03.09.1939. Hy het by Burgersfort geboer en was getroud met Hildegard Therese Dorothea BAULING wat op 25.11.1885 op Lydenburg gebore is; haar pa was, soos Lulu se oupa Güldenpfennig, ’n Berlynse sendeling. Hildegard is oorlede op 26.12.1967 en het haar man dus met byna dertig jaar oorleef; hulle is albei in die ou begraafplaas op Lydenburg begrawe.

Johanna Hedwig Emilie SCHULZE het bekend gestaan as Hänsi. Sy is gebore op 22.06.1881 en oorlede op 06.02.1959; sy was getroud met Johann Heinrich Friedrich GÜLDENPFENNIG, die seun van haar oom Jonathan Gerhardus Marthinus GÜLDENPFENNIG en Johanna Margaretha STADLER. Johann is gebore op 06.10.1881 en oorlede op 04.05.1968 Johan het geboer: vermoedelik op Malta toe sy skoonpa in 1916 daar
oorlede is.

Rudolph Ferdinand SCHULZE, Ferdie genoem, is gebore op 25.12.1883, oorlede op 14.01.1964; hy was getroud met Marie Therese GÜLDENPFEN-NIG, ’n suster van sy suster Hänsi se man. Marie is gebore op 12.05.1882 en oorlede op 09.08.1948. Hierdie egpaar het by Pietersburg geboer.

Gerhard Wilhelm Edmund SCHULZE, gebore op 11.11.1885, was ’n wamaker op Lydenburg. Eddie, soos hy genoem is, is op 06.09.1941 op Rooidraai oorlede. Hy is betreklik laat in sy lewe, op 48 jaar, getroud met die heelwat jonger Olive Rita INGLETHORP. Olive is op 22.02.1904 gebore is en het Eddie met dertig jaar oorlewe tot sy op 06.09.1971 oorlede is.

Carl Theodor Wilhelm SCHULZE, gebore op 12.01.1890, was die oudste seun uit die tweede huwelik. Hy was getroud met Machteld Cicilia SCHOEMAN, gebore op 09.07.1894. Carl was aktief in die politiek; as lid van die Ossewa Brandwag is hy gedurende die Tweede Wêreld-oorlog vir ‘n tyd geïnterneer. Hy was die balju van Lydenburg, maar verhuis later na Pretoria waar hy ‘n eiendomsagent word. Carl is oorlede op 13.08.1951 en Machteld het hom met twintig jaar tot 1971 oorlewe. 

Friedrich Wilhelm Ludwig SCHULZE, bekend as Willi 21.10.1891 – 13.10.1945 .
Willi het ’n diploma gehad van die landboukollege Glen in die Vrystaat. As jong man, gedagtig aan sy pa se wens dat die oueres geld sal verdien om hul jonger broers op die been te help, gaan hy sisal plant in die destydse Duitse kolonie, Tanganjika; die sisal word vanaf Mombasa uitgevoer. Hy kom egter terug Lydenburg toe waar hy ’n koringgradeerder vir die landboukoöperasie word. Hy is goed bekend onder die boere – en nie net omdat hy ’n insig het in maniere waarop hulle soms probeer om nat koring die Koöperasie-skure “in te smokkel” nie. Willie trou in 1922 met Cornelia Johanna Hollebrands
*22.02.1893, ’n Nederlandse onderwyseres wat hy deur sy suster Hänsie ontmoet het. Willie en Corrie woon hul lewe lank in die dorpshuis wat nog aan sy pa Carl behoort het. Deur die jare is die huis vergroot en gemoderniseer om hul gesin van vyf kinders en verskeie oorblyers te huisves. Willie is egter op ’n jeugdige 54 jaar, op 13.10.1945, oorlede en Corrie moet toe die kinders verder alleen grootmaak. Sy hou vir jare skool by die plaaslike klooster en bly woon in die groot ou huis op die dorp. Corrie sterf op 09.07.1980; sy en Willi is albei begrawe in die ou begraafplaas op Lydenburg.

So onthou ek my pa Willi

“Ons gaan jag saam met my pa op die plaas van mnr Woodrow, net aan die Pietersburg-kant van Burgersfort: Dit was vroeg die oggend . . . meteens staan daar voor ons, sommer naby, ’n klein bokkie. Pa lê aan. Maar dis te hóóg, en toe ágter die verwarde diertjie, línks – alles mis en daar gaan die bokkie. Ons pa die groot Bisleyskut! 

Ons loop maar aan. Nie lank nie, op so 200 tree is dié keer twee rooibokke. Net twee skote en daar lê albei die bokke! 

Maar Pa? Wat nou van die klein bokkie netnou? en Pa antwoord: ‘Ons het kom jag, nie kom moor nie, my kind’ ”. So onthou sy oudste seun vir Willi Schulze, die tweede oudste uit die oupa Carl se tweede huwelik.

Hy was vir baie mense ’n goeie vriend, sê sy seun Carl. So het die Duitse sendeling Schwellnuss gevra om eendag so na as moontlik aan Willi begrawe te word. “Op ’n keer toe ek in Pietermaritzburg losies
gesoek het, het ek vinnnig na die bopunt van die waglys geskuif toe dit bekend geword het wie my pa was.”

Hans Georg SCHULZE is gebore op 05.11.1893 en oorlede op 06.07.1973. Hy was getroud met Maria Catharina YSSEL gebore op 06.01.1899 en oorlede op 01.09.1960. Hans studeer aan verskeie plaaslike
inrigtings, hou ’n tydlank skool en in 1919 sluit hy aan by die jong Potchefstroomse Universiteitskollege vir Hoër Christelike Onderwys; tien jaar later behaal hy aan die Universiteit van Bonn in Duitsland ’n doktorsgraad. Later, as professor in Duits in die Departement Lettere en Wysbegeerte het hy ‘n groot aandeel gehad in die uitbou van die kollege tot ‘n universiteit. Hy was verantwoordelik vir die eerste Duits/Afrikaans Afrikaanse/Duitse
woordeboek en ander studiemateriaal. ’n Huldeblyk aan hom verskyn in Koers, maandblad vir  Calvinistiese denke; daarin word hulde gebring
aan prof Schulze en drie kollegas, almal pioniers van die universiteit. Om aan te haal “prof Schulze [het] op my ’n diepe en blywende indruk gemaak as geleerde, as leermeester, as vriend en as gids vir die lewe.” (P.G. le Clus). In 1970 skenk hy 2 000 van sy boeke aan die Ferdinand Postma-biblioteek van die PU vir CHO.

Hans Georg Schulze

Gottfried Albert SCHULZE het nooit getrou nie; hy is gebore op 14.10.1895 en oorlede op 28.02.1976. (regs bo)

Max Robert SCHULZE
24.07.1898 – 18.11.1977

Hy was die tweede jongste van oupa Carl se vyftien kinders; hy is gebore op 24.07.1898 en oorlede op 18.11.1977.

Max maak matriek aan die Pretoria Boys High en studeer aan die universiteite van Potchefstroom en later ook Pretoria. Hy was van beroep ’n wiskundeonderwyser: vir 21 jaar in Petrusburg in die Vrystaat, waar hy sy vrou Magdalena Elizabeth van der Walt (*25.08.1903) ontmoet het; sowat elf jaar aan die Hoërskool Brandwag in Benoni aan die Oos-Rand en ná sy
aftrede nog drie jaar deeltyds op Nigel sowel as Sundra.

Maar hy was ’n veelsydige man met baie ander belangstellings. Waar hy skool gehou het, was hy by voorbeeld ’n leier in die Voortrekkers. Nie verniet ’n musikale Lydenburgse Schulze nie, was sang en musiek ’n groot liefde: hy het jare lank skoolkore afgerig en self ook koor gesing.

Vir die lekker het hy ook houtwerk gedoen. Op Benoni was Max en Magdalena aktiewe lidmate van die Gereformeerde Kerk en hy was lank ouderling in die gemeente Benoni-Noord. Hulle was vir jare lede van die plaaslike Kultuurvereniging.

Toe hy in 1977 in Benoni oorlede is, is hy oorlewe deur Magdalena en vier kinders. Magdalena is oorlede op 24.02.1986.

BO: Gottfried Albert SCHULZE

BO: Max Robert SCHULZE

Bernhard Rudolph SCHULZE

25.11.1901 – 01.11.1989. 

Nog ’n baie musikale Schulze. Volgens oorlewering het ’n musiekliefhebber hom op ’n keer hoor viool speel in sy koshuiskamer en wou toe weet by wie hy les neem omdat hy so goed speel. Toe Bernard antwoord dat hy homself geleer het, het die man gereël dat hy by ’n bekwame leermeester les kry.

Bernhard en sy vrou Marjorie M V Choles (01.06.1917 – 29.11.2012) het ná hul aftrede vir die Transvaalse Departement van Onderwys ’n musieksentrum in die Magoebaskloof begin waar kinders met groot welslae opleiding in klavier, viool, tjello en trompet gekry het. Hy het ’n “Performer Licentiate” in viool gehad en ook ander instrumente bespeel terwyl Marjorie se musiekstudie aan die Londense Royal Academy of Music deur die Tweede Wêreldoorlog onderbreek is. Bernhard het vir sy vrou vioolles gegee in ruil van harmonielesse.

In die dae van stilrolprente het hy glo vir musiek by die vertonings gesorg. Maar van beroep was Bernhard ’n weerkundige verbonde aan die SA Weerburo. Sy groot werk was die skryf en samestelling van Die Klimaat van Suid-Afrika wat vir baie jare gedien het as voorgeskrewe boek vir Weerkundestudente. Hy was ook mede-outeur van verskeie weerkundige publikasies. Soos van sy broers, was hy ook ’n kranige houtwerker.

Ouma Güldenpfennig

Kuier op Malta

Carl Schulze se twee eggenotes het — seker vanselfsprekend– kontak behou met hulle ma op Malta; en die kinders met hul ouma. Dit was by voorbeeld in Februarie 1885 dat die Oppermans hul huis op Lydenburg vir ’n jaar verhuur en alles klaargemaak het vir ’n besoek aan Ouma Guldenpfennig.

Rudolph Oppermann, ’n nuwe aankomeling uit Duitsland, was getroud met nog ’n Güldenpfennnig dogter, Talitha Kumi, en hy en sy gesin het ook by Lydenburg gewoon. Rudolph6 en Bertha5 van wie se oorlewering hier gebruik gemaak word, was hul kinders. Bertha het van die besoek aan Malta vertel.

Sy sê, volgens ‘n oorvertelling van Alba Bouwer5 “ . . . al die inwoners het kom groet en party vriende het te perd en op die wa saamgery tot by die drif buite die dorp.

“Voor die ossewa uit het haar vader op sy perd gery om uitspanplek te soek. Heerlik so ’n uitspan en kamp opslaan . . . die voorkis is eerste afgelaai en die breekgoed en eetgerei uitgehaal om op die kis tafel te dek. Intussen het Pa gaan wild skiet . . . Een oggend vroeg roep haar pa: kom kyk, want soiets sal julle nooit weer sien nie! Dit was ’n yslike trop springbokke . . . wat oor die veld huppel en soos ’n wuiwende grasveld lyk.

“Oral was plase waar hulle moes aangaan ook om pos van familie op Lydenburg af te laai . . . Baie steiltes moes hulle af en deur baie riviere trek . . . Soms was ’n rivier te vol, dan moes hulle rustig ’n dag of wat oorstaan totdat die water gesak het.

“Ná twee maande kom hulle eindelik by Ouma in die distrik Kliprivier aan op die familieplaas Malta. (Later in 1961, ’n halte op die spoorlyn tussen Bergville en Winterton.)

“Die kinders het ’n ruk lank by Ouma op die plaas agtergebly terwyl hul ouers Durban toe is om sake te doen. Ouma wat ’n Voortrekker was, het die kinders baie van haar ondervindinge in die Groot Trek vertel; ook oor die besoek aan Malta van die keiserin Eugenie, vrou van koning Napoleon III wie se seun Leopold Napoleon gesneuwel het in die Zoeloe-oorlog van 1879. Die jong prins was onder andere ook tydens ’n verkenningstog op Malta en sy ma wou alles daaromtrent weet: waar en hoe hy gesit en gestaan het . . . Sy was effens teleurgesteld omdat Ouma nie genoeg onthou het nie.

“’n Volle jaar was die gesin weg op hierdie Natalse kuier.”

Begrawe op Malta

Die SA Genealogiese Genootskap het die inligting van die begraaf plaas op Malta gedokumenteer9. Afgesien van Ouma Güldenpfennig, is haar ouers en haar pa se ma asook ’n aantal van die jonger familielede op Malta oorlede en begrawe. Een van die jongeres was haar skoonseun Carl Schulze wat in Lydenburg in die ZAR gewoon het — soos reeds gesê.

Die begraafplaas op Malta vertel ’n verhaal van familieverwantskap. Die ouma is die skakel tussen die familielede. Gebore Rudolph, is sy begrawe as Johanna Güldenpfenning *03.04.1826 †12.11.1914

Haar Rudolph-familie

  • Haar ouma Rudolph gebore Johanna Magdalena Oosthuijse *01.06.1773 †01.04.1864. Ouma Rudolph was ’n tweede keer getroud met William GARDNER (SAG 7, b1c5d3); die datums
    op haar graf verskil van dié in SAG. Haar neef se seun Marthinus Jacobus b1c4d7e3, die “held van Rensburgkoppie”,  was getroud met Ouma Güldenpfennig se jonger suster Aletta Berhardina Rudolph.
  • Haar ouers: Elizabeth Susanna Rudolph *Fourie 15.08.1799 †01.12.1861 en Johan Bernhard Rudolph *01.04.1794 †12.02.1875. Hierdie egpaar het vóór die Groot Trek gewoon by Lange Hoop, Onder-Boesmansrivier in die destydse distrik Uitenhage10; in Natal word Johan Bernhard weesheer en later landdros in die Voortrekker-regering in Pietermaritzburg11
  • Haar jongste suster wat getroud was met Dirk Teunis Fourie: Tabitha/Talitha Kumi Rudolph *05.09.1833 †08.05.1861. Ook ’n dogtertjie van Talitha Kumi, vernoem na haar ma, in ’n kin-
    dergraffie slegs gemerk “Kumi”.

Haar Güldenpfennig-familie

  • Haar agtjarige dogter: Anna Maria Dorothea Güldenpfennig *08.12.1851 †17.03.1859.
  • Friedrich Wilhelm Ludwig Güldenpfennig en Johanna Güldenpfennig, albei grafskrifte sonder meer inligting. 
  • Haar skoonseun wat met twee van haar dogters getroud was: Carl F L D Schulze *23.04.1836 †13.08.1916.
  • ’n Kleinkind, dogtertjie van Carl Schulze en sy eerste vrou Johanna Elizabeth Bernhardina Güldenpfennig: Frieda Elisabeth Margaretha Schulze *12.11.1875 †02.05.1882.

Grafte van drie mense van wie ons nie meer inligting het nie:

  •  Cromhout, volwassene en een kind; en
  • Johannes Hendrik Stephanus Gouws *26.11.1884  †29.10.1918.

Verwysings

  1. Slegs een Schulze-stamvader, Wilhelm Ernst, maar sonder enige nageslag, word in SAG aangegee (Vol 11 p 155). ’n Honderdtal Schulzes is as aangetroudes van die Güldenpfennig-familie opgeneem in Zöllner en Heese se genealogie van die Berlynse sendelinge in 2 hieronder.
  2. Zöllner L & J A Heese, Die Berlynse sendelinge in Suid-Afrika, RGN, Pretoria 1984.
  3. Geslagregister van die Lydenburgse Schulze soos byeengebring deur Hänsi Robbertze en opgestel deur Ockert Malan.
  4. Koerantuitknipsel in besit van die familie. 
  5. Herinneringe van Bertha Oppermann soos Alba Bouwer dit vertel in “Uit die wêreld van gister” in Sarie Marais van 13 September 1961.
  6. Rudolph Opperman se herinneringe: “Ek verlang na Suid-Afrika” verskyn in ‘n Fleur van Februarie 1948. Met dank aan Dora Opperman vir insae in dié artikel.
  7. Brief in besit van die familie.
  8. TAB 1518 — die dagboek sowel as ’n vertaling.
  9. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Begraafplaasprojek. Beskikbaar op skyf en verkrygbaar van die GGSA. ’n Voorgesette projek.
  10. Visagie, Jan. Voortrekkerstamouers 1835-1845, Protea Boekhuis, Pretoria 2011.
  11. Preller, Gustav S; inleiding en aantekeninge, Voortrekker Wetgewing, uitgegee in
    opdrag van die Suid-Afr. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, J L van Schaik, Pretoria 1924.