Vertaal in Afrikaans
My liewe kinders!
Ek vermoed dat julle, buiten dié aangaande julle ouers en grootouers, nie veel van die familieverbande van julle voorouers af weet nie, en dat julle daarom belang sou stel om iets meer daaroor te wete te kom. Ek wil dus, sover dit binne my vermoë is, aan julle meedeel wat ek van my ouers af gehoor het betreffende my vaders- en moederskante en wat my andersins bekend geword het.
My vader het my as kind dikwels vertel dat sy oudste bekende voorouer reeds in die 16e eeu geleef het en in Salzwedel predikant was. Alhoewel sy naam Stephanus Schulze was, was hy meer bekend onder sy latynse naam Stephanus Praetorius. Die verlatiniseerde naam Praetorius beteken dieselfde as die oudduitse term Schulze. Beide beteken “gemeenskapsleier” – en die oudduitse term kom nog in algemene gebruik in die vorm “Dorfschulze” (balju) voor. In daardie dae was dit die gebruik in Duitsland om die Latynse vorm van name te gebruik, vandaar hy bekend was as Praetorius en nie Schulze nie, en sy boeke en geskrifte onder daardie naam verskyn het. Onder daardie naam kan hy ook vandag nog in die ou argiewe van Salzwedel gevind word.
Soos die toeval dit nou wou hê, het ek n klompie jare gelede met die sendeling en superintendent A. Merensky oor die onderwerp van ons voorouers gesels, en toe ek hom van die bogenoemde inligting oor Stef. Praetorius verwittig, het hy aan my meegedeel dat dat hy van die einste Stef. Praetorius n boek besit het, wat hy toe aan my geskenk het en wat ek met dank aanvaar het. Ek laat hierdie boek aan julle na as n toewydingsboek, siende dat dit ongetwyfeld van dieselfde voorouer kom vanwie my oorlede vader so dikwels gepraat het.
Hierdie Stefanus Praetorius was dus ons eerste bekende voorouer en sy naam was ter gelykertyd ook in evangelies-Luterse kringe heel bekend en dikwels genoem in sy werksgemeenskap te Salzwedel as ‘n sielversorger en navolger van Christus in die ware sin van die woord.
Hy was gebore op die 3e Mei 1536, dus as kind nog vir 10 jare lank ‘n tydgenoot van Martinus Luther. Sy geestelike roeping het hom eers gelei tot diaken van oud-Salzwedel, vanaf 1565 to 1569, en later in dieselfde jaar was hy beroep tot predikant in nuwe-Salzwedel waar hy sy beroep as sielsversorger tot met sy dood in die jaar 1610 beoefen het. Hoe hy dit gedoen het, kan julle gedeeltelik sien uit sy aantekeninge in die bogemelde boek. Kort na sy dood het die geweldige chaotiese tyd van die 30-jarige oorlog aangebreek, toe alles in Duitsland ten gronde gegaan en verwoes was. Gevolglik was dit ook moelik om betroubaar en noukeurig familieverbande aan te teken en dié aantekeninge te bewaar en dus het min inligting oor sy onmiddelike afstammelinge tot nou toe bekend gebly. Nogtans, hy het ‘n seun, Christian Jürgen Schulze, nagelaat wat ongeveer in 1575 gebore was, en dié het weer ‘n seun, Dietrich Schulze, nagelaat wat ongeveer in 1615 gebore was. Laasgenoemde het op die 8e Julie 1651 met Anna Baumann getrou. Anna Baumann, gebore op die 10e April 1631, was die dogter van Johann Baumann en Ilse Schulze, waarskynlik sy niggie en die dogter van ‘n tweede seun van Stephanus Praetorius (Schulze). Johann Baumann was gebore in 1597 uit die huwelik tussen Jürgen Baumann (gebore 1560) en Ilse Kruger voltrek op die 19e Oktober 1592; en Jürgen Baumann was ‘n seun van Jürgen Baumann senior en Elisabeth Gerken, getroud op die 20e Sondag na die Drie-eenheidsfees van 1558 in nuwe-Salzwedel. Tot sover is die inligting wat aan my verskaf is, bevestig.
Uit die huwelik van Dietrich Schulze en Anna Baumann was Stephan Schulze op die 24e November 1664 gebore, waarskynlik Stephan genoem na sy Praetorius oupagrootjie. Hierdie Stephan Schulze het ook teologie gestudeer en het toe predikant en superintendent in sy vaderstad Salzwedel geword. Hy het vir die eerste keer getrou met Elisabeth Burchardt op die 3e Oktober 1695 en vir die tweede keer met Elisabeth Dorothea von Chüden op die 4e Maart 1707, uit welke laaste huwelik Stephan Christian Schulze op die 4e Julie 1724 gebore was. Stephan Christian Schulze het op die 17e November 1761 met Christiane Johanna Kelch getrou en uit dié huwelik was Carl Ludolph Schulze gebore op die 30e Junie 1772 wie op sy beurt weer op die 2e November 1798 met Charlotte Albertine Wagener van Havelberg getrou het.
Hierdie twee was my grootouers, en van hulle het ek my oupa nie geken nie siende dat hy reeds vroeg oorlede is tydens ‘n werksreis. Hierdie oupagrootjie van julle was predikant te Boebenzien naby Seehausen in die Altmark. Julle oumagrootjie, Charlotte Albertine Schulze, gebore Wagener, het ek self nog goed geken; sy het nog tot die jaar 1856 geleef en my Nuwe Testament was ‘n geskenk van haar af waarin sy nog self die Bybelversie geskryf het; ook nog die silwer lepel waarmee ek nog steeds altyd eet. Sy het 5 dogters en 4 seuns nagelaat, en van hulle was die oudste, Franz Ludewig Schulze (julle oupa), op die 31e Januarie 1805 gebore. Hy het ook teologie gestudeer en het eers predikant te Wendemark in die Altmark geword, waar hy met Pauline Staemmler van Wilsnack in 1831 getrou het. Daar is ek, julle pa, gebore op die 23e April 1836. Vandaar af was julle oupa toe verplaas na die stadjie Werben in die Altmark as superintendent van die streek Werben; en in die jaar 1848 was hy weereens verplaas as predikant en superintendent na Camern, waar hy nog tot in 1876 in die amp was, toe is hy geemeriteer het en sy laaste lewensjare in Wernigerode deurgebring, waar hy in 1883 gesterf het.