Carl Schulze se erfenis aan sy nageslag

Seëlring

Carl Ferdinand Ludolph Dietrich Schulze (Stamvader van die Schulzes in Suid-Afrika) se seëlring. Die seëlring is sigbaar in baie fotos van Carl. 


Militêre Kentekens

Die epaulette is ook in Duits bekend as ‘n Schulterstück, Achselstück of ‘n Schulterklappe.

 Die nommer op die epaulette beteken dat dit die 26ste Infanterie-regiment was en rooi was die kleur wat die regiment sedert 1806 tot 1918 gebruik het. Die 26ste was ‘n lynregiment wat, soos die 27ste, 36ste, 66ste, 72ste, 93ste, 153ste en 165ste regimente, rooi skouerstukke en wit mou-omslae gebruik het vir identifikasie. Die helm dateer voor 1866 – na 1866 is die quatrefoil onder die spykerversiering (die “Pickel” of soos dit algemeen bekend was, die “Spitze”) deur ‘n ronde skyf vervang. Die vergulde brons-embleem van die Pruisies-Brandenburgse Koninkryk dui daarop dat dit ‘n “lyn”-regiment was – die wag (“Leibgarde”) en trein-wag bataljonne het silwer embleme en versierings op gehad. Die kruis op die embleem, die sg. “Landwehr-Kreuz”, dui daarop dat die draer heel moontlik’n offisier op die reserwe-lys was, min-of-meer soos ons reserwe-magte of die Amerikaanse “National Guard”. Die “Landwehr” of “Landsturm” het as reserwe gedien vir die staande leer wat ‘n wat as voedingsbron ‘n opgeleide mag tot die staande leer kon toevoeg in noodsituasies. ‘n Reserwe-mag offisier kon sy volle uniform dra slegs met die verskil dat die helm-kenteken die “Landsturm-Kreuz” opgehad het om sy status aan te dui, soos díe op die foto. Die foto is ‘n bietjie onduidelik, maar dit lyk of die helm se kenriem die tipiese brons “visskubbe” op leer het soos deur offisiere gedra – manskappe se kenriem was slegs uit leer vervaardig. Daar was ses hooftipes “Pickelhauben”.

Die beste bron vir uniforms en kentekens bly die “Handbuch für Uniformkunde” deur Richard Knötel (1937) wat haas onverkrygbaar is en amper netsoveel soos ‘n gemiddelde Pickelhaube kos! Dit is deur sy seun Herbert, en Herbert Sieg, opgedateer en in Engels uitgegee as “Uniforms of the World” (1980) en eweneens baie skaars is. Wat Pickelhauben betref, is die volgende bronne redelik gesaghebbend: “Helmets and Headdress of the Imperial German Army, 1870-1918” deur Robert H. Rankin (1965); “The Pickelhaube, Vol. 1 deur J.A. Bowman (1989) en Vol. 2 (1992).  ‘n Belangrike foto-verwysing is die versameling van 96 s/w fotoplate wat Gérard Regnier onder die titel “Infanterie Pickelhauben” in 1974 gepubliseer het, in Engels/Frans/Duits. Die enigste nuwe publikasies is “Spiked Helmets of Imperial Germany”, Vols. 1 & 2, deur William Randall Trawnik (2005).

Sou u of die eienaars van die versameling belangstel, lg. stel boeke is tans in voorraad en deur my spesialis-boekwinkel, The Military Bookshop, beskikbaar.

Ek vertrou dat die inligting vir u tot nut sal wees.

Johan van den Berg