(Carl Louis Otto Schulze 1874-1937)
In Afrikaans vertaal deur wyle Mnr. Fanie Maritz (Oorspronklike bewaar in Transvaalse Museum TAB1518)
Dagboek van Otto Schulze
24 Oktober 1900
Op die vier en twintigste Oktober, in die oggend met dagbreek, het ons van die wagplek weggegaan om te sien wat die Kakies doen. Ons ry die Spekboomrivier deur, Geerts en Broodryk was voor, ons ander saam met die Veldkornet ‘n entjie agter hulle. Toe ons bo kom waar die pad vertak, neem ons die regterkantste pad, terwyl die twee voor ons die linkerkantste pad volg, sodat hulle voor ons bly en dus eerste op die vyand moes afkom.
Nadat ons ‘n paar honderd tree (meter) weg was na regs, sê Viljoen aan my, ek moet na links voor ry en op ‘n bepaalde plek halt. Ek ry natuurlik argeloos voort en het nie anders gedink as dat die ander twee al meer vorentoe was nie. In stede van hulle daar te vind, word ek op die bepaalde plek deur die vyand toegeroep om my oor te gee. Ek klim dadelik van die perd af en gryp my mauser, maar daar knal uit minstens vyftien geweerlope, en verbaas dat ek nog leef maar bly dat so ‘n waarskuwingstekene gegewe was, gooi ek die wapen weg, omdat dit heeltemal doelloos gelyk het om verder te verdedig, want ek was omsingel, en nog een salvo uit die onmiddelike nabyheid sou vir my hierdie keer nie so goed afgeloop het soos met die eerste een, waarin ek net ‘n skouerwond opgedoen het nie. Myns insiens was verdere opofferinge nutteloos. As ek egter nou weer die keuse kon maak, glo ek dat daar eers nog ‘n paar kakies daaraan sou moes glo dat ek met hulle besig was, of in ander woorde ek sou eers ‘n paar van hulle afgemaai het voordat ek voor hulle oormag geswig het. Dis hier nie die haat teen die soldate nie, maar die ervaring wat ‘n mens opdoen, dus liewer tienmaal dood as weer gevang.
Ek is dadelik lig verbind en weggevoer en halfpad na die dorp van die ambulans afgeneem en in my liewe tuisdorp gedra. Dit was vir my aangenaam om gedra te word terwyl ‘n ander groot aantal persone my aangegaap het. In die ou winkel van Butcher en Sons wat as ‘n hospitaal ingerig was is ek neergesit en gou op die beste manier verbind. Oor die behandeling kan ek nie kla nie. Ek is baie tegemoetkomend behandel, maar daarby ook ten strengste bewaak. Ek het hier juis twee wagte gehad, jammerlik om te aanskou, wat ek baie lank sou onthou. Origens die Engelse is baie besorg oor hulle gevangenes.
Die tweede dag het hulle my na die tronk geneem om daarmee wagte uit te spaar. Hier is ek vanuit die offisiershospitaal verpleeg, wat baie goed was, maar ook soveel sekerder. Hier kon ek besoek word. Dit was egter ‘n treurige weersien, om hier in die
klein sel die geliefdes te begroet. Ek dink nie graag daaraan terug nie, maar liewer aan die herontmoeting na die oorlog. Ek moes egter ook dink aan my troue perdjie wat my deur dik en dun gedra het, honger en dors saam met my gely het, en nou moes ek hoor dat daar ‘n domme Engelsman daarop rondry. Dan het ‘n man eers reg gevoel wat jy verloor het en wat dit beteken om ‘n gevangene te wees.
In Lydenburg-tronk het ek veertien dae gebly. Op een mooi Sondag namiddag is daar nog omtrent twintig gevangenes ingebring, almal uit die dorp. Onder hulle was die meeste van ons ou gryse stadsvaders en tot my verbasing was Pappa daarby. Wat die Engelse tot hierdie kleinlikheid en gemene handeling veroorsaak het kon ek wel nie begryp nie, maar soveel het ek daarna ervaar, dat hulle nog baie gemener kon handel.
Papa en die ou meneer Koeleman kom toe saam in my sel slaap. Ons het ons daar so gemaklik as moontlik gemaak en het die lange ure deurgebring met vertellings, rook en dies meer Om vieruur die volgende more moes ons uit en is voor die deur, deur die wag ontvang en na die wa geneem, waar drie tot ons bygevoeg is. Ons het ons daarop gehurk, want ‘n mens kan dit nie anders noem nie. En die gevangeneskap begin al meer druk.
Die reis van Lydenburg na Machadodorp het vier dae geduur, en in hierdie vier dae is daar begin met blikkiesvleis en klinkers. Ons het vir afwisseling ‘n soort koffie of tee te drinke ontvang wat tuis egter vir die varke te sleg sou gewees het. ‘n Mens moes jou maar daaraan gewoond maak, en rus ook, wat ons ook gedoen het, maar ons moes dit drink met die oë styf toe gedruk, sodat ons minstens nie nodig gehad het om dit te sien nie.
Die middag na ons aankoms op Machadodorp bestyg ons die trein, maar nie voor ons verlig sou dink in die eerste of tweede klasse nie, maar in klas nul in ‘n smerige yster kooltrok, waar ons in goeie sonskyn, helder sonskyn al gedink het dat ons gebraai sou word, later het ons gesighuid afgedop. Ek moet hier vermeld dat ons wagte dieselfde lyding moes deurmaak en die waghouery vervelig gevind het. Die arme kêrels kan ook niks daarteen doen nie. Hulle het ons mislike lot waar hulle kon verlig, en hulle het ons dikwels iets beter laat geniet, wat ons andersins nie sou kon kry nie. Die Tommie is in elk geval nie so sleg nie en ek voel teenoor hulle eerder medelye as haat. Hy sluit graag kameraadskappe. Van ons reis na Pretoria is nie veel te vertel nie, net dat dit op die vierde dag aan die einde gekom het, en dat ons daaroor hartlik bly was.
In Pretoria is ons eers kruis en dwars geneem, tot ons uiteindelik aan gekom het, waar ons weer uitgevra is. Hier was iemand wat langsaan gewoon het so vriendelik om ons water te gee, waarna ons alreeds ‘n groot verlange gehad het.
Nadat alles hier klaar was gaan ons na die ruskamp. Onderweg is ons toegelaat om ons pakkie op ‘n vervoermiddel te laai, waarvoor ons self moes betaal. Ons was maar bly dat ons nie nodig gehad het om die goed verder aan te sleep nie. In die ruskamp is ons goed eers nagesien of niks verdags gehad het nie, toe in menasies verdeel en toe gewys waar ons ons voorlopig kon inrig.
Die gebou waarin ons gekom het, was dieselfde waarin die Engelse offisiere vroeër was. Die plankvloer was egter verwyder en die grondoppervlak was ongelyk. Wanneer ‘n mens uit die vars lig daar inkom, het ‘n mens geglo dat jy kon verstik van die stof en watter pesreuke nog daarin was. Die ongeskiktheid en liederlikheid van die Boere het hierop nog die kroon geplaas, daarin dat hulle telkens weer gevee het en daardeur die stof immer so dikwels opgewarrel is, ook is oor alles water gesprinkel wat die stof egter nie veel verminder het nie. Dit was nie ‘n wonder dat daar elke dag twee of drie daagliks na die hospitaal geneem is weens verkoue , koors en longontsteking nie.
Daar was met ons aankoms ongeveer 200 gevangenes aanwesig, terwyl die getal in nog ‘n paar weke met nog 100 vermeerder het. Onder hierdie mense was egter seer weinig wat met gevegte of wat met die wapen gevang is. Hier was baie gryse manne en ander wat onbekwaam was om te veg. Ongelukkig was daar ook kerngesonde jong kêrels, waaronder ook verraaiers. ‘n Mens moes van wee die sulkes jou goed in ag neem om nie teveel te sê nie wat maklik slegte gevolge kon hê nie.
Ons rantsoene was ‘n halwe brood per dag, waarby ons soggens ’n stukkie ham of spek ontvang het. Smiddags was daar sop, dikwels ook ertappels of gedroogde groente op potte verbygedra, wat nie verhinder het dat ons by hierdie uitsonderlike gevalle, al die sop weggegooi het. As mens die vleis tevore kon gesien het, sou ‘n mens jou nie daaroor verwonder het nie, maar eetluswekkend was dit nie.
Dit het ook nie lank geduur voordat ek in hierdie pesgat ‘n ernstige verkoue opgedoen het, wat gepaard gegaan het met ‘n heftige koorsaanval. Dit kan ook wees dat dit reeds begin het op die reis. Ek kan nie presies sê nie, slegs dat ek ellendig was. Nadat ek vir agt dae goeie behandeling in die ‘Racecourse’ hospitaal geniet het, het ek weer herstel en die hondelewe kon van nuuts af begin.
Terwyl ek in die hospitaal gelê het, het papa my een namiddag besoek en ek was bly om hom heeltemal gerus te stel oor my toestand. Ek het my egter verwonder dat papa daar nog so goed daar uitgesien het. Ek was oor hom altyd onrustig en was dit nog steeds, omdat die lewe hier so sleg was vir hom, en hy hier alles, ook die kleinste moes ontbeer en dan nog die onrustigheid oor hoe dit by die huis gaan, ens. Onder andere vertel hy my ook dat Arthur, Luke en Reinholdt aangekom het, wie ook na ‘n paar dae self kom groet het.
Gedurende my krankheid is ‘n stuk of 20 gevangenes weggestuur waaronder ook ek sou gewees het, maar soos die toeval dit wou hê, kon ek toe nog ‘n rukkie hier vertoef, waaroor ek enersyds baie bly was, andersyds egter glad nie, want ‘n mens wou daar wees waar die end was en dit was of Ceylon of St. Helena.
‘n Mens gewen jou egter daaraan om met jou noodlot tevrede te wees en dit het ook altyd sy goeie kant, so ook hier, omdat ek met my broers saam kon wees. Ons kon ons gedagtes oor baie dinge wissel. Ons kon egter in hierdie onsekere en toekoms donkere tyd geen planne beraam nie. Dit sou ook geen sin hê nie.
Ek is gou met meer ander as Ceyloners in ‘n paar tente buite afgesonder. My tydgenote was twee Hollanders en drie Duitsers : Ferchel, Lust en Osbohr. Osbohr en ek het gou ‘n soort vriendskap gesluit en is ook nou nog tesame.
Die tyd is hier met kaarte, lees, eet en slaap doodgeslaan. Ek het hier ook die begin van skaakspel geleer. Met Heemstra is dikwels Whist gespeel, anders sou die tyd verskriklik vervelig verby gegaan het. Papa het gelukkig na ‘n tyd uitgegaan op parool en hy het vir hom ‘n kamertjie in die stad ingerig. Ons was bly vir sy onthalwe, want hier sou hy dit tog nie kon uitgehou het nie. Aldus het hy tog sy rus kon hê en hy het ook bekendes in Pretoria gehad met wie hy kon verkeer. Ook ons vriend, Behnke was hier en as ‘n verassing vir almal, selfs die sekretaris van die Duitse konsulaat in Pretoria. Hy het ons ‘n paar maal in die kamp besoek, wat dan ook ‘n afwisseling in die eentonigheid was.
Daar moes blykbaar in hierdie tyd taamlik baie om Pretoria geveg gewees het. Dit was af te lei uit die opgewondenheid en die afwisseling van die troepe-afdelings in die nabyheid van ons kamp. Eendag kon ons,van ons kant af sien hoe die Engelse hulle Schapnels, wat aan hulle gestuur was, eksploiteer en gedonder was byna elke dag te hoor.
Dit het nie lank geduur voordat Arthur ook siek geword het nie, nie dat hy juis moes gaan lê nie, maar ek was tog oor hom altyd ietwat besorg. Daar kon egter vir hom geen reëling getref word nie, en as hy hom tot ‘n dokter gewend het, is gesê dat dit nie gevaarlik was nie en hy is met ‘n paar pille afgehandel. Hy was self ook ‘n bietjie eiesinnig. Mnr. Teichman was so vriendelik om hom in sy tent te nooi, waar hy toe ‘n bietjie meer rus en gerief gehad het. Dit het, kort voor my vertrek, geskyn asof die ongesondheid aan die oorgaan was, wat egter soos dit vir my lyk ongelukkig nie so was nie, want hier verneem ek tot my smart dat hy aan die koors gesterf het, hy het afwisselend hoë koors gehad. As ek bloot eers sekere berigte daaroor gekry het. Dis verskriklik as ‘n mens niks presies weet en alles van andere moet hoor.
Nadat ons twee maal verniet aangesê is om ons bereid te maak vir die vertrek kom eindelik die derde kennisgewing en dis was ook Kersfeesmôre weer so reg Engels om altyd die feesdae uit te soek! Daar was nog roerende gesigte op die spoorwegstasie waar familielede moes skei. Ek het ook gedink dat ek Papa nog die hand sou kon druk, maar hy het my briefie seker nie ontvang nie. Spoedig styg ons in en vertrek terwyl ons die Engelse met die Transvaalse Volkslied toesing. Hierdie reis het taamlik eentonig verby gegaan, met uitsondering van ‘n ongeluksgeval. Toe daar met die vertrek van die stasie in die Kaap koes ‘n soldaat van die heftige ruk dat hy agteroor val en tussen die wiele beland. Die gevolge kan ‘n mens jou indink. Dit het ‘n klein verandering veroorsaak: ‘n mens het hier en daar woorde van medelye gehoor en verder het dit gegaan of niks gebeur het nie. In hierdie tyd is daar nie eintlik veel gemaak van ‘n mens se lewe nie, treurig genoeg.
Dit het vir my gelyk of die Kaap kolle nie taamlik swaar beset was nie, dit was egter net die spoorlyn. By de Aar het dit gelyk of alles in die teken van ‘n oproep was en asof ‘n geveg in aantog was. Die gerugte het begin by my waar word van die opstand in die kaap. Dit is jammer, want dit was maar net, volgens my insig nie iets wat na ‘n goeie doel sou voer nie; eerder tot die ruïnering van goedbedoelde persone. Om so iets te wil doen, moet dit goed voorgelê word en dan vinnig en met alle krag deurgesit word, wat in die Kolonie glad nie geval was nie en dit vir ons saak ook niks beloof het nie.
Op hierdie reis het ons die eentonigheid verdryf met die vertellery aan mekaar van ons belewenisse. Besonderlik aan die gedenkwaardige plekke wat ons passeer het. Anders as dit nie te winderig was nie, is skaak gespeel.
1 Januarie 1901
Op die eerste Januarie 1901 kom ons in Kaapstad aan en ons moes die eerste nag op die stasie in die trok slaap. Eers die volgende more om elfuur kon ons na die kamp marsjeer, natuurlik bly om eindelik tot rus te kom. Voor ons egter tot rus gekom het moes ons eers nog deur ‘n soort rowersnes waar ons goedere ondersoek is nie deur eerlike persone nie maar deur hoogneusige skurke en domme kwaaijongens. Van my het hulle geneem ‘n reënmantel, kamaste en nog kleinighede: soos ‘n drinkbeker lepels ens. Die geld is ook van ons geneem maar die het ons terug gekry. Wat eetgereedskap betref het ons in stede van ons eie ontvang : borde, messe, vurke, lepels en ‘n blikbeker. Van Mnr. Just is al sy beste seëls gesteel en ek sê gesteel omdat dit niks anders genoem kan word nie. Dis is egter aan my gesê dat dit aan die Engelse militêre behoort; waarteen ek tevergeefs teen geprotesteer het.
Eindelik het ons tot rus gekom en kon ons onsself inrig. Ek het saam met vier mans in ‘n halfvol tent beland. Daar was altyd twaalf man in ‘n tent. Daar was egter twee per tent wat die reg gehad het om in ‘n gebou te slaap wat die getal heelwat verlig het.
Net nadat ek my nuwe kwartier opgesoek en bekyk het, gaan ek om ‘n bad te neem, want dit was ten hoogste tyd om weer ‘n slag skoon te kom. Die bad en was inrigting was hier baie goed maar ook baie nodig anders was dit heel moontlik nie daar nie. Op B op St Helena was nie eers vir genoeg kookwater gesorg nie. Na die reiniging afgehandel was, is die kamp geïnspekteer, of daar nie miskien bekendes te vind was nie, en ook om in die stilte te ondersoek of ‘n vlug nie bewerkstellig kon word nie, maar ongelukkig sonder enige goeie resultate. Die volgende more het ek eers ‘n ou bekende aangetref en sowaar! Mnr. Albedil, met wie ek in geselskap van enige andere in sy vertrek, menige aangename uur beleef het.
Daar is behalwe die tente nog meer sinkgeboue opgerig. Dit het geskyn of dit die resiesbaan vir fietse was vir die plesiersoekers van Kaapstad. ‘n Mens het van die hoogste sitbanke af ‘n mooi uitsig gehad van die hawe en ‘n deel van die stad. Kort en klein, die kamp het niks te wense gelaat vir alles wat krygsgevangenes nodig gehad het nie. Die Engelse moes hier egter die hoofde van hulle geliefdes tweemaal per dag tel, veiligheidsonthalwe, sodat daar geen geleentheid kon wees om uit te glip nie, behalwe dit is elke dag nog vasgestel of daar nog nie weer tonnels gegrawe is nie.
Een dag, voor ons verskeping daarheen het ek nog ‘n paar Lydenburgers ontmoet, wat van no.2 kamp af gekom het, waaronder Pachonik, Stein, Wilf en nog ‘n paar ander wie se name my ontgaan het. Met Pachonik het ek nog ‘n goeie rukkie ‘n geselskap gehad, waaraan die ou korrelkop natuurlik die meeste gedoen het.
6 Januarie 1901
Die sesde Januarie het aangebreek en daarmee ook die dag van ons vertrek vanaf Kaapstad. Al wat daaroor gesê kan word is dat ons om tien uur aangesê is om na die skip te gaan. Ons was tweehonderd man en ons kon onsself geluk wens, want
tweehonderd man was klaar net genoeg om op so ‘n ou kas gepak te word, as ‘n mens nie verdruk moes word nie.
Die kos en die behandeling op die skip was goed. Daar was elke oggend vars brood, smiddags braai- of sopvleis met ertappels, en wat vryheid betref kon ons op die dek bly van vroeg tot saans om tienuur en ook nog ‘n bietjie later. Daar was ook ‘n klein kantien op dek. Daar kon ons van alle klein belemmeringe of bekommernisse (Bedurfnisse) ontslae raak.
12 Januarie 1901
Na ‘n sesdaagse reis het ons op 12 Januarie St. Helena bereik, waar ons die oggend om negeuur aan wal gegaan het. Ons bagasie is op ‘n trollie gelaai en na die drieuur verre Deadwood kamp vervoer. Ons moes natuurlik net daaragter marsjeer en ons het die kamp bereik tussen twaalf en eenuur, waar ons dadelik in menasies ingedeel is van twaalf man elk, en aan ons ons tent aangewys is. ‘n Kookpot, ‘n skottel en ‘n emmer het ook gereed gestaan vir elke menasie. Ons het elkeen ook twee komberse ontvang asook ‘n waterproof om op te slaap.
Ek is spoedig deur Holting, Merckel en Zwarenstein begroet en is ter selfde tyd in die Duitse klub opgeneem, waar ek gelukkig die geleentheid gehad het om koffie, koek en bier te beproef. Na die drieuur lange mars het dit dan ook baie goed gesmaak.
Die ergernis en droefheid wat ek die eerste paar dae hier gehad het, kan ek glad nie ordentlik beskryf nie. ‘n Mens dink jou in die situasie in, waar twaalf man in ‘n tent moet slaap, waarvan party so vol luise is wat hulle byna wegdra en dan smôrens nie genoeg water het om die oë te was nie.
Na veertien dae het daar gelukkig ’n verandering in hierdie toestand gekom deurdat ons menasie opgehef is en ons verdeel is onder ander menasies wat nie vol was nie. Op hierdie wyse kon ek gelukkig in ‘n tent kom waar Holterig was en aldus in ‘n tent wat alreeds goed ingerig was.
Intussen het ek my egter daarmee bemoei om ‘n standplaas te bekom om vir my daarop ‘n huis te bou, waaraan Vorster en Osbagh deelgeneem het. Ek was so gelukkig om die verlof daartoe te bekom, maar die haakplek het nou gekom by die aanskaf van die materiaal om die huis mee te bou.
Ek kan hier nog van geluk spreek dat ek die geleentheid gehad het om ‘n uitgediende geboutjie te koop, waarin nog ‘n slaapstel van beddens by was. Hierdie beddens het ons goed te pas gekom aangesien die meeste ander hout vir niks gedeug het nie.
Nou het die gesukkel begin, eers vir ‘n hamer, dan vir ‘n saag; om die kisplanke uitmekaar te slaan en dan te saag waarby ons sae, uit tafelmesse gevyl, moes gebruik. ‘n Mens kan jou indink dat hier ‘n bietjie geduld nodig was. Ons sou dit makliker gehad het as die parool oop was, want sou ons beter hout en ander benodigdhede vir die bouery kon aangeskaf het. Ongelukkig moes ons, ons maar nog behelp.
Na drie tot vier dae het ons eindelik die geraamte klaar gehad en ons kon met die bekleding wat uit sakke, waterproofstroke en komberse bestaan het, aanvang. Vir die agterkant het ons gelukkig blik gehad, wat baie nodig was, daar reën en wind hier altyd uit een rigting kom.
Na alles klaar was kos die hele gedoente ons £1-3-0 ‘n groot som vir die huidige omstandighede, maar die gerief was daarmee lank nie te duur betaal nie. Die binne inrigting wat bestaan het uit ‘n tafel, stoel en drie beddens kon ons eers met gelang van tyd herstel, daar net soos hierbo genoem, die materiaal moeilik verkry was. Ek moet nog opmerk dat die huise so gebou moes word dat ‘n mens hulle maklik kon versit omdat ons byna elke maand, ter wille van die reinheid (higiëne) , ons huisie moes skuif, net soos met die tente.
Ek het juis in die tyd hier aan gekom toe die sogenaamde opbloei en die welstand in die kamp begin het met ‘n opwaartse neiging, ‘n mens moet die energie bewonder waarmee hier so veel deurgesit word en baie maal kom dit ‘n mens komieklik voor as ‘n mens jou by hierdie lewe en drywery as gevangenes indink, omdat daar dit baie soos ‘n grootstadlewe is. Hier is biersale, koekbakkerye, klubs (internasionaal en Duits) tabak en eetware winkels ook drinkplekke (schapsbuden). Hierdie is ‘n openlike geheim. Behalwe dit, is daar nog ‘n massa kafees (restaurante) (Schnitsbuden) en wat daar nog van ander werke gemaak kon word. So gou as ‘n tweevertrek gebou en opgerig word, word dit ‘n sportmanskafee genoem. Eienare was Church, Pents en Breidge. Daar was ook loseerders aangeneem wat vir matige pryse hulle maaltye hier geneem het.
‘n Kerk, verskillende verenigingshuise en ‘n skool is ter selfde tyd gebou, alles tesame was daar agt barakke vir goeie doeleindes opgerig. Ek het ook in die eerste tyd begin om ‘n penhouer uit te sny, ook ander figure is gemaak. Wat ek gemaak het bring ek saam huis toe, aangesien dit my anders tog geen doel sou hê, en ek sal ook net soveel snywerk doen, as wat ek sal kan saamneem. Miskien begin ek later weer as die parool weer op (verby) is, en dan maak ek miskien nog enige aandenkings.
Ek sal die belewenisse van ‘n paar mense wat sonder besondere bereikings aangegaan het hier en daar waar dit my byval vertel en ek begin nou met belewenisse in Julie, ek sal ook nou waar ek alles dadelik neerskryf, die datum byskryf.
6 Junie 1901
Daar is al sedert ‘n paar dae, ‘n baie onrustige gees in die kamp. ‘n Mens het so allerlei van petisies wat geteken word. Daar is in elk geval altyd iets waars aan sulke gerugte en so skyn dit hier ook die geval te wees. Dit is te treurig dat die boere hulle so deur die Engelse laat fop en vaderlands verraaiers word. Ek skryf dit meestens toe aan hulle grote (teigheit) gepaard met domheid. Uit ander gronde kan ek my sulke ellendige handelswyse glad nie indink nie.
11 Junie 1901
Vandag was ek met vier here uit ons tent see toe om te hengel. Dit neem byna twee ure om daarheen te gaan en dis ook baie steil af voor ‘n mens by die water kom. Ons het ongeveer een dosyn visse gevang. Daarby was hulle ook maar klein gewees. In die bad het ek ook nog ‘n ongeluk gehad om in die see te trap(seeigel) te trap, en my die voet vol steeksel te besorg, wat ek eers na veertien dae weer uitgekry het. Ek is nou egter van sulke uitvlugte genees(kuriert), want die terugkoms is tog ‘n bietjie moeilik, veral met ‘n voet vol steeksels.
14 Junie 1901
Die Parool is weer gesluit! Ek glo dis weens die onlus. Die kêrels gaan darem ook so te kere, omdat daar in die laaste tyd baie sopies in die kamp gegorrel en daardeur die gemoedere nog baie makliker opgerui is, is dit nie te verwonder dat die parool van ons afgeneem is nie. Dan kom dit nog daarby dat ‘n paar Engelsgesindes se vertrek gisteraand oor hulle koppe aan die brand gesteek is. Alles is ook juis deurgesoek vir bewysstukke van die petisiegeskiedenis, waarvan egter niks te vinde was nie. Die geboutjie het behoort aan Schuman, die vroeëre onderwyser van Lydenburg, wat dadelik om hulp geroep het by die Engelse, wat toe dan ook nie uitgebly het nie. Daar was dan ook ‘n hele dosyn en meer tommies, wat hom met nog meer sulke Engelsgesindes met sak en pak uit die kamp geneem het, begelei deur die spottendes en vloeke van die teruggeblewenes. Die here sou spoedig nog meer hiervan ontvang. Daar is vir die verraaiers ‘n gedenksteen opgerig by hulle vroeëre woning, bestaande uit ‘n groot klip en ‘n houtkruis. Daaronder het ‘n paar leë whiskey flesse gelê en so ook ten laaste ‘n geel vlag, omdat die plek verpes en aansteeklik was. Toe is daar ook ‘n strooiman gemaak, wat baie gelyk het na een van die bovermelde here, en kort na dit donker geword het, met olie begiet en verbrand.
20 Junie 1901
In die laaste week is iets soos honderd man van hier af weg na ‘n Refugie-kamp, ook drie van ons tentgenote, Krause, van Vuuren en le Roux. Hulle skyn almal te glo dat hulle gou na Transvaal teruggestuur sal word, waarop hulle egter lank seël kan wag. Die gemeenste daarvan is dat hulle in die nag hierdie kamp verlaat het, wat aldus die beste bewys is dat hulle geen goeie gewete het nie. Die kamp van hierdie vaderlandsverraaiers is net ‘n paar honderd tree van ons af opgeslaan. Ons kan amper met mekaar praat.
26 Junie 1901
Vandag is die aanhitsers van die onrus, elf in getal gevat en na die fort gebring, waar hulle strenger bewaak sal word. Onder hulle ken ek net Eloff en Bezuidenhout, laasgenoemde is Evangelieverband, wat ook deur die bewoners hier gebrandmerk is. Eloff is ook bekend en die ander sal nie veel beter wees nie, natuurlik met uitsonderinge.
Die wag hier sal gou afgelos word omdat daar ook ‘n ander kolonel sal kom, is dit te verwag daar weer ‘n hele deer verouderende nuwighede ingevoer sal word, aangesien daar by die Engelse geen bestaande voorskrifte skyn te wees nie.
2 Julie 1901
Vandag is ons ou wag afgelos. Maar wat vir een? Louter kinders , die meeste onder 18 jaar. Dit skyn die laaste te wees wat Engeland tesame kan kry, en dis ook net hier waar sulke kinders verwen kan word, want hier is geen kans vir uitknypery nie, want op die oesland knyp ons sulke knape almal uit.
10 Julie 1901
Die nuwe Kolonel bedui dat die kamp baie vuil is, wat ook sy reg het, want die grootste helfte maak nie veel van reinheid nie. Hy het toe ook beveel dat ons nie eerder parool sal kry nie, voor die kamp skoon en aan die kant gehou word nie. Die Boere sal wel met vurige ywer daarmee aangaan, maar net tot die parool toegestaan is, dan sal dit wel weer nagelaat word, en as dit weer begin reën, sal geen kolonel hom ook meer in die kamp laat sien nie, en dit sal weer soos tevore wees.
18 Julie 1901
Vandag hou die nuwe kolonel sy eerste “rollcall” (appél). Hy laat egter uit oormoed en domheid of miskien om Engeland se mag te wys, die soldate met gewere en uitgevat aantree. Hierdie jongens is so verdeel dat voor elke tent een te staan gekom het en daarby is hulle gekondisioneer dat hulle nie waag om van hulle plek te roer nie. Hoe maklik kan ‘n mens nie hulle wapens afneem en tegelyker tyd die wag onskadelik maak nie? Ek is daarvan vas oortuig dat as hierdie ‘n oesland was, ons die hele wag sou kon oorrompel het. Ook hier is dit nie vir die Engelse gerade sou wees, verder sulks op te tree dat so ‘n versoeking baie groot is nie. Ek glo ook nie dit sal weer voorkom nie.
20 Julie 1901
Die skoonmaak van die kamp is bevredigend afgehandel en ons kan hoop om gou weer parool te hê. Dit word vertel dat Kommandant Wolmarans die kolonel daarop opmerksaam gemaak het, dat dit nie gerade is om die soldate gewapen in die kamp te laat bly nie en dat hy (Wolmarans) vir niks goed staan nie.
25 Julie 1901
Vandag appel (rollcall) . Die Tommies het slegs met sygeweer aangetree. Die saak is dus vernuftig oorlê. Die parool is van gister af weer aan die gang.
26 Julie 1901
Vandag was ek vergesel van die twee Lademanns, Bester en die ene Rood na die Diana’s Piek gewees: die hoogste spits van die eiland. ‘n Mens het van daarbo af ‘n wonderlike gesig oor die hele eiland en ‘n mens kan oor die meer sien. Die binneste gedeelte van die eiland is heeltemal dig bewoon terwyl alles vir my tot vyf myl na die see toe gelyk en kaal is. Ek het van bo af mooi ruikervarings en blomme saamgebring, maar daar niks besonders mooi nie. Om twaalf uur het ons ‘n blik ingemaakte vleis (corned beef) en ‘n paar beskuitjies bymekaar gehou, wat na die drieuur mars, baie goed gesmaak het, waarvoor ons almal verwonderd was, want in die kamp word hierdie soort kos skaars nog aangeroer. Ons verkwansel dit vir groente, waarby die vleis teen /1 per lbs gereken word (dws 1d per lbs of sê maar 1 sent per halwe kilogram) Ons het met ‘n ander weg teruggekom en het die geluk gehad om by ‘n sekere Pieters ‘n fles Whiskey te bekom, ‘n hoogs seldsame genot vir krygsgevangenes. Die fles was gou leeg en ons stoot lustig en vergenoeg verder aan om op die regte tyd weer in die kamp te wees en ook om die koffie nog warm te vind.
3 Augustus 1901
Vanaand was daar in die Duitse huis aandgeselligheid gehou. Daar is verskillende baie goeie liedere gesing. Behalwe dit; nog vioolsolo’s van Mnr. Ernst. Die program het my baie opgehef.
8 Augustus 1901
Van Hiemstra’s het ek vandag ‘n brief ontvang. Hulle woon nou in Freek? ‘n klein stadjie in Holland waar hy besigheid bedryf en waar dit nog goed gaan met hulle. Ek moet ook dadelik skryf wat ek nodig het, waarop ek natuurlik nie sal laat wag nie. Ook van Papa het ek een ontvang en is bly om te hoor dat dit tuis nog goed gaan.
12 Augustus 1901
Hier het vandag ‘n besending tabak uit Duitsland aangekom en die komitee wat die verdeling moet doen, het die eerste werk voor hulle. Die komitee bestaan uit die here O. Holting, J Penzhorn en ek in alle beskeidenheid. Die keer is 90 medelede elk met ‘n ¼ lbs tabak reggesien, die origes, wat vandag niks ontvang het nie, sal met die volgende besending terugwerkend ontvang.
14 Augustus 1901
Was ek weer in die geselskap van die twee Lademann’s, Bester en Rood op parool gewees. Hierdie keer was ons tot baie naby die Broodbottom kamp gewees en ons het die omgewing daar ook deeglik bekyk. Dit is die vrugbaarste en die beste beboude deel van die eiland, veral wat woude aanbetref. Ons het ketels en bekers by ons en ons het vir ons op ‘n stil plek kakao gemaak en dit het goed gesmaak.
Sondag, 18 Augustus 1901
Weer ‘n Sondag daarmee heen en nog altyd sit ‘n mens vas. Vir afwisseling is ons weer die klub gefotografeer. Dit was ‘n onaangename koue dag.
20 Augustus 1901
Gister het Fritz Lademan, 32 jaar oud geword en aangesien ek môre my verjaarsdag het, het ons besluit om hierdie betekenisvolle dae op die negentiende gelyktydig te vier, wat dan ook die aand met twee flesse Rum gedoen is. Ons gaste was Hölting, Rood en Penzhorn gewees. Vandag maak ons hare ons ‘n bietjie seer. Ek hoop dat dit die eerste en die laaste verjaarsdag is wat ek op St. Helena sal vier.
22 Augustus 1901
Dis weer my en Hölting se twee dae om te kook. Ons het nou byna elke dag groente wat die ou Rood vir ons ingemaakte vleis ( beef) en beskuite buite inruil (meeste kool). Ons het net een pot waarin alles gekook word, ook koffie en tee. Smaak is hier mos bysaak, die hoofsaak is dat dit die maag vul. Vandag is dit kool en ertappels vir die middag, en môre kom vir die afwisseling eers ertappels en dan kool.
23 Augustus 1901
Ek glo dat al die ou mense, wat die klimaat hier nie kan verdra nie, binnekort weggesluier sal word. Dit is ook baie noodwendig, omdat daar byna elke tweede week een sterwe, en dit plotseling. Ook bewe hulle tandeklapperend merkbaar saam. Dit is egter met hierdie koue weer wat ons hier het nie snaaks nie, en die mantels, wat hier vir die gevangenes aangekom het, word ook nie uitgedeel nie. ‘n Swyne besigheid!!!!!!!!!
26 Augustus 1901
Die liefdegawes uit Europa is weer daar en sal in hierdie dae uitgedeel word. Hoofsaaklik is dit tabak en dit kom vir elke man op ongeveer ‘n kwart pond te staan, wat altyd nie te verag is nie.
27 Augustus 1901
Daar het vandag 500 sigare vir die Duitsers in die kamp aangekom (deur bemiddeling van Schiel). Aldus het ons, die here van die liefdeskomitee weer ‘n bietjie werk. Dit is aan omtrent 60 medelede in die kamp versend en dit kom neer op ongeveer 8 sigare vir elkeen.
29 Augustus 1901
Vandag is ‘n bietjie skryfpapier met koeverte, ink en ‘n paar pype verdeel. Nou het ons weer vir ‘n goeie tyd voorraad. Gert,ons smerige tentgenoot het ons tent verlaat. Ons het natuurlik geen trane oor hom gestort nie, in teendeel ons het al lank probeer om hom uit te wikkel. Nou is hier nog die ou Lubbe, maar ek glo ons sal hom nie uit kry nie.
1 September 1901
Daar is alweer ‘n maand verby en nog altyd sit ons vas, en ongelukkig lyk dit of die vrede nog lank weggeskuif is, minstens volgens die laaste berigte wat ons hier verneem het. Alles kan ‘n mens nou wel nie glo nie, maar mens kan tot die gevolgtrekking kom dat die Boere hulle saak nog nie opgegee het nie. Die Engelse skyn dit egter ongelukkig ook nie te doen nie. So moet die ellende dus nog verder aanhou. Ons weet nie waarvoor dit goed is nie en moet dit aan God oorlaat, sonder om te mor. Hy sal wel weet wanneer dit tyd is vir vrede.
Nou swewe my gedagtes weer, soos so dikwels saans as ek nie aan die slaap kan raak nie, huistoe en ook na die kommando’s. As ek aan julle my geliefdes dink word dit vir my swaar om die hart, alhoewel ek altyd weer aan myself moet sê, julle is onder God se beskutting. Hy sal dit goed doen. Onlangs lees ek ‘n berig van T. H. Byrne, uit Waterval, hoe hy van die Boere en die dood gelukkig ontvlug het. Vir my lyk sy uitspraak asof Malan hom, nadat hy reeds verwond was, koudbloedig van baie naby nog ‘n paar skote na hom gevuur het, ‘n bietjie fabelagtig; en buitendien, watter reg het hy as burger en neutrale persoon om vir die Engelse die weg te wys? Dit sou vir my ter wille van Malan baie jammer wees as Byrne se uitspraak op die waarheid berus, want hy (Malan) en sy broers is almal knap en goeie seuns, en het sover ek kan oordeel altyd hulle vaderlandsplig gedoen.
3 September 1901
Soos ek vandag verneem moet Mnre. Hoffe en Zentgraf werk na Transvaal terug en sal daar na hulle beslis gou nog ander volg. Daardeur het ons minstens die hoop dat dit met ons ook nie meer te lank sal duur nie. Daar het in die afgelope week weer plotseling baie van ons ou mense gesterwe. Aan die laaste kan ‘n mens ‘n halfuur tevore nog niks verdags bemerk nie. Vir hulle is dit altyd beter dat hulle uit die ellende uit is, nou het hulle ten minste hulle rus.
Dit lyk of ek met hierdie pos weer te vergeefs op briewe van die huis af wag, miskien skryf hulle weer nadat ek al geskryf het en dit moet al môre gebeur.
Ek dink nou sterk daaraan om die rook op te gee, vir die eenvoudige rede dat die tabak op is. Dis so sleg en so duur om te koop dat ‘n mens dit nie kan bekostig met die paar stuiwers wat ‘n mens nog het nie. Hopelik het oom Rudolph my iets gestuur en sal dit spoedig aankom. Indien nie, word daar maar koud gerook, al wat ‘n mens ter afwisseling kan doen.
Ons sal binnekort hier ook biljart kan speel, die huis en die tafel sal gou klaar wees. Dis ‘n ou tafel wat Mnr. Plage repareer. Die ontbrekende dele het hy vir hom laat aanstuur. Ook weer ‘n plek waar ‘n mens jou geld kan uitgee.
11 September 1901
Daar tree groot verandering in ons stille lewe in, daarin dat ons tent afgebreek word en dat ons elders sal moet inkwartier. Ons, Hölting, twee Lademanns en ek wil egter nou net ons rantsoene ontvang en dan vir ons self kook. Hölting kom by my in die kamertjie dan is ons al vier saam.
12 September 1901
Vandag vind die trekkery plaas. Ons het al reeds ‘n ander tent waarheen ons vier gaan, maar, o wee! Die broers wil geen rantsoene bydra, as ons nie in die menasie kook nie. Dit lyk of al die redenasies van ons kant af niks help nie. Ons sal as ons, ons plan wil deurvoer ‘n ander tent moet soek waar die mense verstandiger is. Hölting het met hierdie doel alreeds ons name ingegee en wag nou met spanning op môre. Die menasie waaronder ons geplaas is, is een van die smerigstes. Alles in die tent lê deurmekaar. Ek glo nie daar word ooit uitgevee nie. Nou ja! Ons sal wel sien dat ons weer daar uit kom. Tot nog toe het ons, onsself na ons lot geskik.
Ek het vandag ‘n brief van Helene en gelyktydig ook van Tant Adéle ontvang. Helene se brief geval my glad nie. Dit lyk of dit tuis baie slegter gaan as wat sy my wil laat weet.
14 September 1901
Hölting en ek is op ons aanvraag om in ‘n ander tent te geskuif te word, ontwykend beantwoord. Nou moet ons nog ‘n rukkie met die teenwoordige tent tevrede wees, voordat ons weer kan aanvra, en dit sal nie lank duur nie, dan is ons uit.
16 September 1901
Ons het nog steeds sulke aanhoudende nat en koue weer. My voete word nou net nie meer warm nie. Dit kom miskien daarby dat ‘n mens nie genoeg loop nie, wat in die gemors ook glad nie ‘n plesier is nie.
18 September 1901
Ek het dit vandag tog deurgesit, dat ons in ‘n ander tent kan gaan, namelik Hölting en ek. Hopelik kom Lademanns ook môre in die gelukkige posisie, dan kan ons ‘n bietjie beter kook.
19 September 1901
Vandag is die tente weer versit na die ander helfte van die kamp. Hierdie keer het ons byna drie maande op een plek gewees.
Dis grappig om te sien hoe elkeen met sy paar goedjies aangaan. Dit neem miskien ‘n halfuur om die 200 tente met hulle hele inhoud te verplaas na die skoon plek, soos tevore. Ons huisie sal wel ook spoedig aankom.
21 September 1901
Daar waar ons nou vir ons alleen moet kook, moet ons ook altyd hout hê en dit moet ons self gaan haal, wat ons ook vandag gedoen het. Ons was al vier uit en het van Louis vir een sjieling soveel hout gekry dat ons dit nie alles kon dra nie. Ons kon vir ons van die dun takke soveel neem as wat ons wou. Ons het van self sprekend ons bes gedoen. Ons sal dit egter môre in die skouers voel, want dit is geen kleinigheid om so ‘n bondel hout drie tot vier myl te sleepdra nie, maar hiervoor het ons ook vir ses weke genoeg vuurmaakhout.
23 September 1901
Dit lyk of die slegte weer ‘n bietjie opklaar. Dit was ook al tyd want ons verlang ordentlik om die son weer te sien. Dit is binnekort twee maande dat ons die laaste mooi dae gehad het. Ons het vandag ‘n goeie kabelgram gekry. Daarin word drie Engelse neerlae vermeld, wat baie geloofwaardig is en ‘n mens kan daarvan aflei dat die Boere nog lank nie ingee nie. Boonop is al die berigte vanaf September hoopvol en ons leef weer ‘n bietjie op.
27 September 1901
Vandag is ons met ons huisie verskuif en ons is bly dat dit verby is. Nou sal ons weer vir ‘n paar maande rus hê. Ons hoop egter almal dat dit die laaste maal is.
Gister het ons ‘n aangename gereg gehad, bone en ertappels, ‘n luukse wat ek vir twee jaar nie geniet het nie, en wat ons hier ook maar seer weinig kan kry. Groente is in elk geval hier baie duur.
29 September 1901
Weer ‘n Sondag verby, soos reeds so baie op hierdie eiland. Die onaangenaamste is dat daar presies nogmaal soveel gesing is soos altyd. Nie dat ek juis teen die Godsdiens is nie, in teendeel, hier word dit egter tot die belaglike gedryf.
30 September 1901
Eindelik het ek my paar nommer sewe skoene vir ‘n passende nommer ses omgeruil gekry. Dit was tyd, want my oues het al begin om erg te druk en te skaaf. Die posboot van Kaapstad het vandag gearriveer. Ek verwag met verlange briewe en ook verseker ‘n pakkie (d.i. as dit versend is) van Malta.
Dinsdag, 1 Oktober 1901
Vandag het ons ertappels, kool en vleis vir middagete gehad (vleis natuurlik al dae). Dis nie hier soos by arm mense hier nie, alles daar! Net geen geld nie. Ons bekommer ons ook nie daaroor nie.
Donderdag, 3 Oktober 1901
Vandag ‘n brief aan Papa weggestuur. Dit word vertel dat die reeds lang verwagte geld in Kaapstad by die Konsul-Generaal is en van daar af slegs aan noorddriftige Ryks Duitsers uitgedeel word. Aldus sal baie tevergeefs gehoop het. Ek het myself juis nie veel daarvan beloof nie.
Vrydag, 4 Oktober 1901
Vandag is daar weer briewe, vir my is egter niks nie.
Sondag, 6 Oktober 1901
Dis vandag weer ‘n bietjie rustiger maar ook vreeslik eentonig. Die kommandant Tom Berry is oorlede.
Maandag, 7 Oktober 1901
Spoggerige voorbereidings word gemaak vir oom Paul se geboortedag herdenkings viering. Die klubs word op nuut gedekoreer. Reisiesbane en alle bykomstige noodsaaklikhede vir sport is in wording. Mooi pryse wat meesters kampfabrikaat is word vir die gelukkige wenners uitgesit. Die sport moet twee dae duur. In die Duitse huis vind gedurende die voormiddag ‘n kort fees plaas, iets word gesing en dan ‘n kort voordrag in Hollands voorgedra deur Schulte Brokhoff, hopelik sal dit alles goed verloop.
10 Oktober 1901
God groet jou, oom Paul op jou 76ste verjaarsdag, mag Hy aan jou vergun dat jy die Vierkleur weer vry oor Transvaal sal sien wapper en dat John Bull met vloek en skande sal moet wegtrek.
Die weer het gelukkig vandag goed gebly. Die stemming was verhewe en feestelik. ‘n Mens het byna elke landskleur versier, rondloop en staan en die sport aankyk, wat goed verloop het. Die viering in die Duitse klub was kort maar goed.
14 Oktober 1901
Vandag was ek saam met Hannes Lademann op besoek by Merckel en Zwarenstein gewees, waar ons ook ‘n gawe bad geneem het, wat hier ‘n groot gemis is. Van Zwarenstein het weer £1-0-0 bekom. Ek skuld hom nou £7-0-0. Ons het die mooiste weer gehad.
18 Oktober 1901
Ons versoek om werk te kry skyn vergeefs te wees. Aangesien Mnr. Fismer, wat ons vandag tot in die dorp gevolg het, vir my teveel ekskuse maak, glo ons sy beloftes nie meer nie. Met die geleentheid het ek ‘n keer deur die dorp gekom (maar sonder ‘n pas, waarop ons natuurlik gefuif het), waarvan alle dinge nie veel te sien is nie. Ons het Mnr. Fismer in die publieke tuin aangetref. Later het ons die St. Helena museum beskou, maar wat daarin is kan ‘n mens maklik in een goeie kis pak.
2 Januarie 1902
Dit is nou ‘n volle jaar wat ek hier op St. Helena sit en betwyfel of dit die langste tyd was. Die ou jaar het ons gelukkig deurgemaak. Ons sal die nuwe ook met Gods hulp die voorhoof bied. Dit help tog nie om die kop te laat hang nie.
Heeltemal openlike Kersfeesvreugde het ons hier ook nie gehad nie. Van Duitsland het hulle ryklik aan my klere gedink met goeie klere en ook ‘n goeie “met” wors, alles van die goeie tantes, allerhande ander dinge, ook ‘n bietjie klere van Mnre. Van Katte, alles wat ‘n mens hier baie nodig het. Ek weet glad nie hoe ek almal daarvoor moet bedank nie. Daar is ook ryklik gedink aan my huisvriende. Lademanns het glad ‘n klein kersboompie ontvang. Ongelukkig was dit al verdroog, sodat ons dit vir ketelkook verbrand het.
In die klub het ons ‘n mooi boom gehad. Versiersels van die goeie familie Fúck het net betyds aangekom. Dit was baie mooi goed. Daaronder was pepermente en ander soetighede genoeg. Ter aanvang het Mnr. Runge ‘n goeie op die fees toepaslike rede gehou. Hy het afgesluit, met ‘n wens vir ons almal vir ‘n vrolike fees, met die hoop dat dit die laaste in gevangenisskap mag wees. Daarna is deur die sangkoor ‘n paar liedere gesing en tussen in sigare uitgedeel, 6 stuks per man. Die stemming was egter nie vrolik nie, ‘n mens kan dit eerder bedruk en treurig noem. Op die tweede Kersdag is die Kersboom geplunder en die soetigheid het onder die aanwesiges verdwyn. Ook op hierdie aand het daar niks besonders plaasgevind nie. Net dat daar later ‘n halfdosyn besope was en op Nuwejaarsdag vanselfsprekend almal dronkmansverdriet gehad het.
In die afgelope maand het die Engelse weer ‘n algemene opname gemaak van alle gevangenes en in drie klasse verdeel: eerstens Volksburgers, tweedens Europeërs en derdens Koloniale Rebelle. Behalwe wat hulle aan beweeglike eiendom besit het toe die oorlog begin het moes hulle grondeiendomme opgee.
Die Boere was eers baie onwillig omdat hulle geglo het dat die Engelse ter selfde tyd die eed van getrouheid sou laat aflê, wat hier egter geheel-en–al uitgesluit was. Hier was eers nog baie wat nie die opgawe wou maak nie. Hulle is egter een na die ander persoonlik gehaal. Die vermoedens wat hieruit voortspruit is haarklowend en hulle maak ‘n mens, van wat ‘n mens oral hoor, die kop heeltemal dom.
3 Januarie 1902
Die geld vir die Ryks-Duitsers wat al sedert ‘n halwe jaar verwag is, het eindelik aangekom en sal volgende Woensdag uitbetaal word. Elkeen sal £2-10-0 kry.
6 Januarie 1902
Daar is ‘n vergadering in die kamp gehou vanweë die naamopgewing, met die besluit dat van vandag af niemand meer ‘n naam sal opgee nie. Die kêrels skyn egter nie te weet dat die meeste wat iets besit al lank daar was nie. Eloff en nog drie ander wat hulle by hierdie geleentheid met redes weer bewys het, sal dit weer sover bring dat hulle weer in die fort kom, of hulle dit verdien of nie. Die Engelse neem dit nie te nougeset op nie.
Nou het ek my pakkie penhouers gereed om na Duitsland te stuur. Ek moes dit eintlik vantevore al versend het maar ons het altyd gedink ons gaan spoedig huis toe, maar sover is dit nog lank nie. Dit lyk vir ons nou baie waarskynliker as ‘n jaar gelede, dat ons op nog ‘n jaar kan reken. Vir die doel het ons ook die Kersboomversierings gebêre. Met die volgende pos (15 Januarie) gaan dus die pakkie met 42 penhouers en ‘n dosie metslangfigure aan tante Margaretha weg.
10 Januarie 1902
Op die laaste maandelikse vergadering van die klub is besluit om ‘n insameling van geld en smeewerke hier te maak en aan die familie Fück as ‘n dankbetuiging te stuur. Ons hoop almal dat dit hulle vergenoeg sal maak.
Vandat my vriend Forster hier uitgetrek het, leef ons baie aangenamer, ten eerste is daar baie minder vlooie, dan het ons natuurlik meer ruimte en derdens het ‘n mens nie meer nodig om jou oor sy gees te vererg nie. Waar ‘n mens ook niks van hom wil hê nie hinder dit ‘n mens tog, ‘n jong man kon gehad het wat hy kon gekry het, kon homself baie beter ingerig het, nie eers ‘n sjieling spandeer hy om vir hom ‘n beter voubedjie te maak nie. Nee! Dit is al goed, ons het mekaar andersins goed verdra, maar vriende kon ons tog nie wees nie. Nadat hy weg is het ek twee goeie leunstoele en ‘n oulike tafel gemaak waarby ons nou al vier heeltemal gemaklik ons middagete geniet, ons eet nou weer soos mense.
Dit is nou binnekort twee maande dat ek nie meer uit die kamp gewees het nie, ek voel ook geen neiging daartoe nie. ‘n Mens weet tog nie waarheen jy moet nie en in die kamp kan mens ook genoeg stap. Om eenmaal om te loop het ‘n mens ‘n goeie halfuur nodig en ‘n mens gaan daagliks twee of driemaal om.
16 Januarie 1902
Vandag is Kieswetter en Kroon vrygelaat en met die posboot na Europa weggestuur: Kroon weens sy oë en Kieswetter, omdat hy glad nie geveg het nie en ook nie in Transvaal gevang is nie. Wanneer kom ons dag wanneer ons hiervandaan wegkom? ‘n Vraag, wat nog lank nie beantwoord kan word nie.
18 Januarie 1902
Moontlikgaan Johannes Lademan môre na die hospitaal op Jamestown. Ons wens hom alle goeie beterskap in sy lyding, waaronder hy reeds lank gebuk gaan.
19 Januarie 1902
Hannes gaan nog nie hospitaal toe nie. Dit is weer uitgestel. Dit lyk ook weer of daar glad niks van sal kom nie.
22 Januarie 1902
Ek het vandag ‘n onverwagte telegram ontvang. Ek moet môre af na Jamestown om as kelner in die offisiersmenasie te gaan werk, dit wil se ek wil Nou! Ek gaan dit in elk geval aanneem, want enige verandering doen iemand goed.
‘n Brief
St Helena 22ste Januarie 1902
Liewe Helene
Met hierdie pos het ek ongelukkig niks van julle ontvang nie. Hoop egter dat julle nog almal gesond is. Dit kan wees dat ek later nog ‘n brief kry. Met my gaan dit sover gog heeltemal goed. Ek het iets gekry om te doen. Of dit my sal geval weet ek nog nie. Dit is egter besigheid. Ek gaan naamlik more na Jamestown as kelner in die offisiersmenasie en sal daar in elk geval beter lewe as hier. Wat ek eintlik te doen sal hê, sal ek eers daaronder ervaar, altyd beter as niks!
Ons kry hier weer aanwas. Daar lê ‘n skip daar onder met vars gevangenes. Dit is te hope dat daar van my bekendes onder hulle is.
Verder is hier niks nuuts nie. Dit word in elk geval elke dag drukkender en verveliger. Wanneer sal die einde van hierdie ellende eindelik kom? Ek glo ons sal grys wees as ons mekaar weer sien.
Hoe gaan dit met Papa? Die kosbare verlies het wel seker diep getref. Ek dink altyd aan hom en bid die liewe God dat Hy vir hom en julle almal ag troos en hoop en glo dat dit so is.
Van Heemstra’s het ook weer briewe ontvang. Dit gaan met hulle nog goed, maar volgens hulle skrywe verlang hulle baie terug na L.
Dus verlaat ek more om 9 uur my klein kamertjie, wat my byna ‘n hele jaar as tuiste gedien het en waar ons boonop ten beste ingerig is. Hier sien ‘n mens dat die mens ook met min tevrede kan wees.
Mag God gee dat ons nie te lank op ‘n vreugdevolle wedersien mag wag nie.
Tot verder my innigste groete aan almal.
Van jou broer.
Otto
24 Januarie 1902
Vandag begin vir my ‘n nuwe deel van my gevangenisskap. Ek is nou kelner in die offisiersmenasie en het vandag met my diens begin. Dit gaan goed maar dis niks vir my nie. Ek is veels te lomp, en as die here iets wil hê, brom hulle iets in hul baarde, of hulle een het of nie, en dit kan my sigbaar vererg. Nee! Mettertyd sal dit wel gaan, of ek vind dalk iets anders, en sodra ek iets anders gevind het, gaan ek hier weg.
26 Januarie 1902
Vandag baie stil hier. Die meeste offisiere is bo in Deadwood, byna niks om te doen nie. Teen die aand kom almal weer huistoe. Drie offisiere is permanent hier as loseerders:- die garnisoen se adjudant, Luitenant Balhurst, dan Luitenand Baily en dr. Smart die veearts. F Friederich en my beskeie self as geringheid is die kelners; Willer die kok, en Carl Goltz (die spensman). Het die eetkamer om te versorg. Daar word oor die algemeen goed geëet.
27 Januarie 1902
Vandag het die 1 500 nuutaangekome gevangenes afgeklim, waarvan die grootste deel na Deadwood gaan. As ‘n mens sien wat die Engelse alles doen om ‘n groot getal te kry, kry ‘n mens net meer haat, instede van agting. Hier is by hierdie klomp omtrent net soveel kinders as grysaards as weerbare manne en van hulle is baie tuis gevang.
Ek het geruil met August Bücherer. Hy word kelner en ek gaan na die Royal Ingenieurs. August het vandag hier begin. Ek sal Woensdag aantree.
29 Januarie 1902
Dit het op die eerste dag in die nuwe plek heeltemal goed gegaan. Daar was ook nie veel te doen nie, wat vir 1£ ook nie te verwag is nie.
Die werksure is van halfagt tot halfeen voormiddag en van twee uur tot kwart voor vyf namiddags. Eers was ek ‘n kelner, maar nou ‘n handlanger vir messelaars. Dit klink nie goed nie, maar dis beter as om in die kamp niks te doen nie. As die werksure verby is kan ons doen en laat wat ons wil, ons is dan vry.
2 Februarie 1902
Tot vanmiddag nog altyd in : “Mulejard” (muile afdeling) gewerk; beter gesê nog niks gedoen nie. Om elf moes ons in die beeste-afdeling, waar ons, soos dit vir my lyk ,baie werk het. Voorlopig moet ons egter ‘n muur bou, dit word alles met sement en sand gebou.
14 Februarie 1902
Die muur waaraan ons nou al twee weke werk nader uiteindelik sy einde. Nadat dit ‘n end klaar was, moes weer gate ingebreek word vir pale wat ingemessel moes word. ‘n Mens kan, as jy dit nie meegemaak het nie, glad nie begryp hoe die omstandighede is en hoe verkeerd die Engelse alles begin nie. Hierdie muur is vir een week te min, as drie man daaraan sou gewerk het en nou werk agt man al veertien dae daaraan en dis nog nie klaar nie. Dit word allerweë met 1sjieling tot 2 sjielings betaal maar met die tyd word dit nog ‘n maal so duur, as wat dit kontrakwerk sou gewees het. Ek gee natuurlik niks daarvoor om nie, dit gee my egter pret om te sien hoe hy homself fop en ruïneer.
15 Februarie 1902
Vandag het ek die Heilsleër gesien. As ek my daaroor moet uitspreek kan ek dit niks anders spottery noem nie, want Gods woord word myns insiens onder die gemors (drek) gewerp. Dit kan nie reg wees om met so ‘n lawaai en alle moontlike gedans en
op vrolike tingelende en tokkelende wysies singend deur die strate te trek en dan op die besigste straathoeke te preek. Op die ou end, loop so ‘n vroumens met ‘n hoed of so iets om die pennies te kollekteer – natuurlik die hoofsaak; toe dit kom, het ek na die krygsgevangehuis gegaan en ‘n koppie tee op die skokkende intog gedrink.
18 Februarie 1902
Die werk gaan sy ou gang. Nou word die veestal vergroot. Dit sal in elk geval twee of drie maande neem voor alles klaar is. Eindelik is ek sover om hier onder iets huisliks in te rig. Ons het vir een sjieling en 2 pennies kiste gekoop, waarvan ek ‘n soort van kas kan maak, sodat die brood en ander eetgoed nie altyd op die grond rondlê nie, en ook wat ‘n mens nog alles het soos boek, skryfgoed ens. Ons het al ‘n ding wat soos ‘n tafel is; nou kom daar nog net ‘n stoel kort. Dan is alles daar. As mens egter op die bed kan sit vermis ‘n mens die stoel nie so erg nie.
Sondag, 23 Februarie 1902
Vandag het ek regtig nie uitgerus nie, vir laas nog ‘n paar briewe geskryf. Dis Sondag en baie stil hier in die kamp. Die meeste vlug uit om vars lug te skep.
1 Maart 1902
Alweer ‘n week om en ses sjielings is weer verdien. As ‘n mens hierdie ses sjielings so aanskou, weet ‘n mens nie wat om daarmee te doen nie ; om dit weg te smyt is dit te veel en om nuttig te leef is dit veels te min. Met die besparings van vier weke is dit die grootste inkoop wat ‘n mens kan maak; ‘n hoed vir vyf sjielings, Carbolpoeier vir 1 sjieling, tabak vir 1 sjieling, seëls vir 1 sjieling; dan kom daar nog ‘n rondte bier daarby en 9 sjielings of 10 sjielings is weer gedaan. Die aand het ek met my tentgenoot, Heydenrÿk deur die stad gedrentel, baie beleef ‘n mens egter nie in hierdie sedelose nes nie. Nou! Ons is ook al weer om halfnege tuis en begin om ons van nuuts af te verveel.
7 Maart 1902
Eindelik weer ‘n afwisseling. Ek werk vandag saam met Bob Doby in die Militêre hospitaal. Die werk kan drie dae duur. Dan gaan ek terug na die veestal. In die hospitaal is nie veel besonders om te sien nie, behalwe ‘n paar halfsiek tommies.
9 Maart 1902
In die Deadwood kamp, waar ek vandag op besoek was, lyk dit treurig genoeg. Daar heers ongeveer dieselfde water skaarsste as ‘n jaar gelede, alhoewel daar nou nog gechloorseerde water by kom. Ons huis is nou in twee dele, wat albei gesondheidsonthalwe, ‘n voet hoër gemaak moes word. Die Lademann’s het hulle deel terselfde tyd ‘n bietjie verleng, sodat albei huise nou ewe groot is. Vir die middag het ons ‘n blik kool gehad; dit smaak egter uitstekend.
Hier het ‘n groot versending tabak, ingemaakte groente en klere van die Rooikruis vir alle Duitsers aangekom. Hierdie keer het hulle nobel bewys. Daar het ook vir elkeen tien sjielings gekom – vir ons dae buitgewoon welkom.
Fritz Lademann het vir my ‘n goeie vriend geword. Ek hoop vir ons dat ons nie slegs hier vriende sal wees nie, maar ook as ons weer gelukkig tuis is.
10 Maart 1902
Dit lyk of die heer Fusch nou haastig word met die stal. Die eerste staanders is geplaas, die gate is egter verkeerd, soos in elk geval hier alles verkeerd gedoen word.
L Clue gehaal, met “Brace en Rimer” (handwerkgereedskap) waarvan ek Duitse name goed ken, maar waarvan ek die Engelse name die eerste keer hoor.; ek moet my Engels in elk geval verbeter.
14 Maart 1902
Vandag is al die staanders vir die eerste afdeling geplaas. Dit was vanmiddag baie warm, verder is daar niks nuuts nie.
16 Maart 1902
Hier is nou ‘n veldsmitswinkel opgerig vir die ysterwerk. Van al die werk sien mens egter min klaarkom.
31 Maart 1902
Paasmaandag – ek was op besoek aan Willow Cottage.
Met die here gaan dit nog goed. Daarna het ek op Francisplein na die sport gekyk, eintlik is net Krieket gespeel. In die aand is ek in Zwarenstein se geselskap terug.
1 April 1902
Die werk gaan soos gewoonlik verder.
4 April 1902
In die aand is op, vir die varkslagtery vir die here van Willow Cottage.
5 April 1902
Ons het vandag – voormiddag klaar gekry met worsmaak en ander vleisbewerking. Soos daar gewoonlik met sulke feeste iets kortkom was daar die keer min derms. In stede daarvan het ons houers van ou sakdoeke gemaak om die orige lewerwors daarin te plaas. Die wors is goed gedoen, alhoewel die lewer van die vark al die aand vantevore geëet is. Die orige verdorwe maag het ook nie uitgebly nie.
7 April 1902
Vir sersant Nox gewerk – meestal wa gelaai.
11 April 1902
Vanmiddag wa gelaai vir Deadwood kamp. Vir die werk is ekstra betaal. Nog in
Transvaal het ek een maal ‘n prent ergens in ‘n Engelse tydskrif gesien (Comforts for POW at St Helena) Ek sou egter nooit kon droom dat ek die goed self sou moes laai nie. Dit is vooraf vervaardigde huise vir hospitale bedoel: 2 vir Deadwood, 2 vir Boadbottom en 3 vir die dorp. Deadwood kamp is al 4 weke onder kwarantyn.
12 April 1902
‘n Brief van Tante Tonie en een Aga. Verder alles wel.
Die parool na Deadwood kamp is alreeds van Maart gesluit vanweë Maagkoors. Die mense sal ‘n baie onaangename tyd hê, en vir ons is dit onaangenaam omdat ons graag daar sou gaan besoek aflê het. Die mens in die kamp kan vryelik gaan wandel, maar mag nie in die dorp inkom nie.
25 April 1902
Die hele dorp is vol vredesmagte. Aan die Jakobsleer het ek saam met Malherbe (wat saam met my op dieselfde dag aan die Spekboomrivier gevange geneem is) ‘n telegraafdraad gespan, ‘n taamlike moeilike ding.
3 Mei 1902
Johannes Penzhorn was vandag in die dorp, waar ek hom toevallig aangetref het. Ek was baie bly daar ek van hom presies kon verneem hoe dit met die Lademann’s en ook verder in die kamp gaan, en in die opsig is ek heeltemal tevrede gestel.
8 Mei 1902
Van Tante Tonie het ek ‘n pakkie ontvang met wors, tabak, ‘n oorjas, 2 paar kouse, foto’s, tekenpapier, potlood, 1 lbs sjokolade en ‘n paar dasse. Ek het al in die bed gelê, toe ‘n vriend dit vir my gebring het. Ek glo ek was so bly as met ‘n Kersfees. Ek het alles dadelik aangepas en ek het amper daarmee aan die slaap geraak. Ek het die wors en tabak natuurlik dadelik probeer.
Die vredesmagte is sterk maar sekerheid kan ‘n mens nie kry nie. Nou! Ons wil die beste hoop.
10 Mei 1902
Vanmiddag na Willow Cottage gewees. Bester sal my goed van die kamp af gaan haal. Die here het gemaklik in die koelte gesit en kaart speel en Salta. Daarna het ons Zwarenstein en Leanger terug vergesel.
11 Mei 1902
Smalhans is vandag kombuisbaas. Corned beef word aangebied.
13 Mei 1902
Daar het gerugte gekom van Kaapstadse predikante en skoolmeester wat waarskynlik die boere kom bekeer. Al die Europeane wat by die Cablo Co werk is aangesê om na die kamp terug te gaan, waarom is nie verduidelik nie.
17 Mei 1902
‘n Hollands-Engelse sakwoordeboek gekoop vir 4/9. Dis jammer dat so iets nie vroeër te kry was nie. Ek kon nog baie Engels geleer het, besonderlik in die kamp waar ek net af en toe iets te lese gekry het. Nou het ek minder tyd, maar tog gebruik ek dit aldae.
Sondag, 18 Mei 1902 – Pinkster
Dit het al gereën, iets wat hier in die dorp selde voorkom. Pastor Louw is van gister af hier en sal wel die feesdae by ons bly. Hy het vir ons ‘n mooi Pinksterpreek gehou. Mag God help dat dit vir ons almal ‘n seën inhou. Dit spyt my dat ek nie meer van sy preke gehoor het nie.
19 Mei 1902
Potje rook vandag net sigare, maar sulkes wat net buite gebruik kan word, vanweë die kwaliteit. Hendrik het my skoene versool. Verder het alles kalm verloop. More gaan ons weer werk toe.
20 Mei 1902
Vandag niks nuuts nie.
22 Mei 1902
Dit lyk vir my nou werklik of die vrede tot stand kom. Verder alles goed.
23 Mei 1902
Die hele dag is rond gesit. Die nodige werktuig is nie klaar nie. ‘n Skip van die Kaap na Engeland is vanoggend verby.
Sondag, 25 Mei 1902
Vandag sal na wat ons gehoor het die afsluitingskonferensie in Vereeniging plaasvind. Ons is natuurlik almal gespanne om in die eersvolgende dae van die gewone besluite te verneem. Maar wie ervaar hier die waarheid? Ons allebeste is dat God ons die vrede, waarna ons uitsien, mag gee.
26 Mei 1902
Die begin is gemaak aan die nuwe verandavloer. Miskien kry ons die kontrak om dit gou klaar te maak, en daarmee verdien ons meer.
Ons geselskap was vanaand oor die Vesuve, en het daarmee geëindig oor hoeveel ‘n kaffermeid op die kop kan dra.
27 Mei 1902
Ons het die Veranda kontrak gekry vir 1/6 per jaart en hoop om ons 4-5 sjielings per dag te verdien.